Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Onthou jy nog die dae toe ons gaan fliek het? Daar was byna ’n fliek in elke voorstad.

Net soos ek, het baie van my tydgenote hulle eerste soen in veilige donkerte van die teater gekry.

Daar het baie vir die eerste keer gevoel hoe dit is om hande vas te hou met iemand wat jou hartsnare roer. Om te gaan fliek was in my tienerjare die gewildste ding om te doen vir ’n eerste afspraak.

Daar in die Scala in Melville het ons maats elke Saterdagmiddag bymekaar gekom, en in lang rye gestaan om ’n kaartjie te koop.

Die kaartjieverkoper het agter ’n glasvenster in ’n klein kantoortjie gesit met drie verskillende rolle kaartjies. Elke kaartjie-prys was ’n ander kleur. Dié geskeurde toegangskaartjie was dikwels ’n souvenier wat jou herinner het aan ’n spesiale geleentheid.

Na SA Spieël wat al die glansgeleenthede vertoon het, en die talle flambojante sigaretadvertensies, was dit pouse. Springmielies was die gewildste, saam met ’n koeldrank. Jou sakgeld moes net ver genoeg rek om dié bederf te kon koop.

Jy kon ook kies om eerder jou verversings by die persoon met die penswinkel wat voor in die teater gestaan het, te koop. Hy het ’n bietjie van al die lekkernye in die houer gehad wat om sy nek gehang het.

My broer Mike was destyds streekbestuurder vir Ster-Kinekor in die Oos-Kaap.

Ek het dikwels kom kuier, en dan het hy my in die werk gesteek agter die toonbank om te help met verkope.

Met die opening van die teaterkompleks in Rinkstraat in Gqeberha, het hy my geleer om die aankondigings te doen ná pouse.

“Ladies and gentlemen, the main feature in Kine one is about to commence. Would you kindly take your seats please.” Oe, dan het tog te belangrik gevoel.

Soms het ek ingestaan as plekaanwyser, en ander kere het ek help drankies bedien toe daar nog ’n kroeg was in die teaterkompleks.

Die reuk van springmielies, die mense wat mooi aangetrek is, die sagte agtergrondmusiek in die foyer en die bestuurder wat met strikdas en aandpak tussen die fliekgangers beweeg het, het my betower.

Dit was ’n spesiale fliekervaring toe ek en my kerriekopkind vir my neef Hennie in Vancouver, Kanada gaan kuier het. Ons het die animasiefilm Polar Express beleef. Wanneer die trein oor berge ry, het jou sitplek beweeg.

Met die skink van koffie, kon mens dit in die teater ruik. Wanneer dit sneeu, het jy vlokkies teen jou gesig gevoel. Dit was magies! Vir ’n rukkie was mens ver verwyderd van die werklikheid – daar in die donkerte.

Tye het dramaties verander, en ek is hartseer oor die ‘glans’ van fliek toe gaan wat verby is.Tuisfliek is nou die inding, met die wydste moontlike keuse van films. Dit het nou weer ander lekkertes meegebring, om in die gemak van jou huis na jou eie keuse film of reeks te kyk.

Jy hoef nie op te dollie en uit die huis te gaan nie. Mens kan met jou pajamas, en enige tyd van die dag jou keuse maak en dit geniet.

Maar dis nie dieselfde nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article