Piet en Griet Geyer het op 24 Mei hul 70ste huweliksherdenking gevier.

Foto: Verskaf

Toe Piet en Griet Geyer sewentig jaar gelede trou aan mekaar beloof het, was hulle bereid om die lewenspad enduit saam te stap. Hulle het sowaar meer as sewe sake sout saam opgeëet.

“Dis alles net die Here se genade. Ons het al so baie saam deurgemaak met ons kinders en families,” sê Oom Piet. Op 95-jarige ouderdom geniet hy nog goeie gesondheid – dis net sy oë wat ingegee het. Tannie Griet het ’n heupvervanging gehad, en is op 92 ook ge sond. Sy kook selfs elke dag nog kos vir hulle twee in die oord waar hulle in Jeffreysbaai woon.

Die romanse het begin toe Oom Piet kos-huisvader en onderwyser was op Mareetsane in die Noord-Wes. Tannie Griet was die posmeesteres op die dorpie, wat meestal ’n boere-gemeenskap is.

“Ek het ouers gevra op hul plaas Jakkalsdans, en haar pa belowe om mooi na haar te kyk. En tot nou toe nog,” sê hy met ’n sagte stem en kyk liefdevol na sy Grietjie.

“Sjoe, ons het ’n groot onthaal gehad daar op die plaas, sowat 300 gaste. As ek weer my lewe moet oorhê, sal ek weer vir Piet Geyer kies,” sê Tannie Griet ingenome.

“Hy is ’n baie geduldige mens, so dierbaar en hardwerkend. Ek kry my Pieta so jammer dat hy nou nie meer kan sien nie.”

Oom Piet vertel:” Sy is die ideale vrou vir ’n man, hardwerkend, fluks, vredeliewend, gelowig, en ’n ondersteunende lewensmaat.”

Oom Piet was in die onderwys van 1947 en het in 1987 uitgetree, waarvan hy 34 jaar lank skoolhoof was. Die langste was as hoof van die Laerskool Innes op Uitenhage. Hy het ’n meestersgraad in die opvoedkunde behaal, en het na sy aftrede nog twee jaar klas gegee aan die destydse onderwyskollege in Gqeberha.

Intussen was Tannie Griet betrokke by die weermag as die De Mist Kommando van Uitenhage se administratiewe beampte vir 23 jaar. Oom Piet het ook sommer in die tyd sy luitenantskursus gedoen.

As Oom Piet nou ’n wenk vir skoolhoofde moet gee, is dit om nie ’n kind voor ’n ander kind te straf nie.

En hoe maak mens om so lank so lief te bly vir mekaar? Die twee geliefde mense kyk na mekaar en sê byna uit een mond: ’n Christelike fondasie is nommer een, stem saam met mekaar, meelewendheid, geduld, getrouheid, ondersteuning en goeie menseverhoudinge.

Uit die huwelik is drie seuns gebore: Daan, Casper en Pieter en hulle het agt kleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article