Foto ter illustrasie.

Foto: Unsplash

Daar is die één gerief in die huis, of buite, waaraan ons almal ’n nood het. Maar dis nie oral ewe gemaklik of gerieflik nie. En daarbenewens is nie almal ewe bevoorreg om ’n gemaksplekkie in die huis te hê nie.

Oor baie jare se werk as joernalis, moes ek al heelwat stories doen oor die gebrek aan toilette vir mense op die platteland en in minder bevoorregte gebiede. Dis darem sowaar die een ding wat jou van menswaardigheid stroop. Veral by skole breek dit my hart.

Dit kan wel ’n avontuur word sonder die gemakshuisie as mens kamp en toer. Dan moet jy planne maak.

Op ’n toer in Namibië saam met liewe vriende, het ek gou geleer om eers met ’n staatmaker grafie ’n gat te grawe en dan die metaalraam van ’n opvoustoeltjie daaroor staan te maak. Dié het selfs ’n toiletsitplek opgehad. So agter ’n duin kon mens diep dink!

Dit herinner my ook aan die plaas se long drop. Oee jimmel, dit was ’n stinke storie, en jy was sowaar bangbroek vir wat daar onder krioel het…veral in die donker.

Eendag was ons op reis aan die Weskus en het by Hondeklipbaai aangedoen. Die dorpie was toe nie gasvry nie, en uit nood het ek by een van die vissershuisies aangeklop.

Dit was ’n voorreg dat die vrou van die huis my toegelaat het om die sink gemakshuisie te gebruik, met die heel beste uitsig oor die oseaan, en die seewater wat sommer hier voor teen die rotse spat tot op jou voete.

Wanneer ’n mens die langpad vat en gereeld by die openbare geriewe ’n draai maak, is jy verstom oor die verskeidenheid graffiti teen die mure. Party vulgêr, en ander weer so skerp. Ek het ook al gesien dat gesegdes netjies geraam teen die mure hang.

Dis tog te mooi as die opsieners van die kontrei se blomme in houers steek om die plek te verfraai.

My grootste irritasie is die metaalhouers in sommige plekke waarin twee toiletrolle werklik toegesluit is, met slot en al. En as jy die nuwe rol wil begin gebruik, is dit ’n pynlike stryd om die meganisme ingedruk te kry om die ou rolletjie te laat uitval en die nuwe een te laat sak. Vir oud en jonk is dit ’n ongemak.

Die mooiste gemakshuisie waarin ek al was, is keurig versier met pragtige handdoekies, toiletpapierhouer wat soos die ’noughts and crosses’ speletjie gepak is, die nuutste binnenshuise versiering tydskrifte het en sowaar ’n Persiese mat.

Met ’n onlangse blits-reünie in Johannesburg was dit ’n asemrowende ervaring in die kleedkamers van die restaurant. Eers het ek gedink dis musiek wat ek hoor, maar dit was jou wrintie die mooiste manstem wat pragtige gedigte voorgelees het. Dáár het ek hopeloos te lank vertoef!

As deel van ’n toergroep in Europa, het ons onder meer net buite Parys by ’n openbare plek aangedoen om neuse te poeier.

Die vrou wat daar gewerk het om die toilette skoon te hou, was so dierbaar-vriendelik.

Sy was trots op haar werk en het al die geskikte toerusting byderhand gehad om die ondankbare werk te doen. Ek huldig almal wat dié werk doen!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article