“Mevrou, hoekom jaag jy so . . . kan ek asseblief jou bestuurslisensie sien?”
Daardie knop-op-die-maag gevoel wat mens kry as ’n verkeersbeampte jou voorkeer, en die spoeg wat opdroog as jy iets moet sê om jou uit die penarie te kry, is menige mens se ervaring.
Ek is pas tuis na ’n lieflike Kaapse kuier. Maar o wee, op Knysna wou ek ’n bejaarde jarelange vriend oplaai, soos afgespreek, om gou ’n koffie te drink. Hy het op die sypaadjie gewag en ek het vinnig op die parkering gereserveer vir gestremdes stilgehou sodat hy kan inklim – met sy seer rug. Ek het nie eers die enjin afgesluit of uitgeklim nie. Soos jy nie eers kon sê “spietkop” nie, hou ’n verkeersbeampte agter my stil en gee my ’n R800 boete. Ek wou nog verduidelik, maar my woorde het in die lug verdwyn.
Natuurlik was ek skuldig. En daarby was ek self meer as ’n jaar lank in ’n rolstoel en het juis toe hierdie parkerings waardeer. Maar aai . . . Genade? Ek het nou ’n mooie verduideliking geskryf en hoop van harte dat ek dalk genade sal kry.
Op ’n keer het ’n verkeersbeampte my by Somerset-Oos voorgekeer omdat ek die spoedgrens oorskry het. Ek was regtig net ingedagte, maar dis nie ’n verskoning nie. Ek het gehoop trane en ’n wit leuentjie sal help. Ek het hartstogtelik begin ween en die beampte vertel hoe hartseer ek is omdat ek van my ma se begrafnis af kom. (Sy is toe juis ’n rukkie tevore oorlede, maar in die Vrystaat!) Ek het onthou van haar begrafnisbrief in die paneelkissie en dit as bewys aangebied. Die dierbare beampte het my arm liggies vasgehou, simpatie betoon, en my mooi gewaarsku om liefs nie so te jaag nie. Gelukkig het hy nie na plek of datum op die brief gekyk nie.
My liewe vriend Charles Reynolds wat al groot hoogtes in die provinsiale verkeersdiens bereik het as direkteur, vertel van ’n ou wat ook sy ma gebruik het as verskoning. Toe die man afgetrek is vir spoed, het hy te vertelle hy is op pad na haar begrafnis. Toe Reynolds na ’n kopie van sy lisensie op die foon kyk, het die einste ma toe gebel!
Meeste sê glo hulle is op pad hospitaal toe. As die beampte aanbied om hulle te neem, is hulle vas.
Nog ’n beampte wat al as die beste verkeersbeampte in die land aangewys is, Charles Bramwell, het talle verskonings in sy loopbaan van 41 jaar gehoor. Maar die beste een is van die knaap wat benoud vertel het dat die maagmedisyne wat hy die vorige aand geneem het, nou dreig om in te skop! En dit was toe só! Hy het teen 188km/h gejaag toe hy voorgekeer is en daarvoor is geen afkoopboete nie. Hy moes maar later in hegtenis geneem word . . .
Albei se raad is dat mens maar altyd hoflik moet wees, en later betoë rig aan die aanklaer as jy ontevrede is. Moet nooit geskenke of geld aanbied nie . . . dis tronksake. En indien jy voorgekeer word, stop waar daar ook ander mense is, by ’n vulstasie of polisiekantoor. Neem ook kennis van die beampte se naam en voertuig-registrasienommer.
En, belangrikste van als, gehoorsaam die padreëls.





