AS jou seun vir jou die dag sê dat hy tydens die COVID-19-pandemie soos die gesin se troeteldier voel omdat hy homself deesdae hoofsaaklik in die agtertuin besig hou, darem gereeld ge-voer word en soms vir ’n uitstappie om die blok geneem word, dan weet jy dis tyd om ’n plan te beraam om so bietjie tyd buite jou huis te gaan spandeer.
Daarom het die Oos-Kaap se stap-guru’s, Eric en Esti Stewart spesiaal ’n vinnige wegbreek-staproete saamgestel terwyl die inperkingsregulasies steeds nagekom sal word.
Die 34km-staproete oor drie dae en twee nagte is geskik vir byna alle fiks-heidsgrade en ouderdomme. Verkieslik moet jou kleingoed darem stewig op die been wees en die staproete kan stap sonder om op pa of ma se skouers te eindig!
Die uitstappie is veral geskik vir ’n naweekwegbreek maar stappers kan enige tyd van die week ook daarvoor bespreek.
Dit begin en eindig by die Kaap St. Francis-oord in die Oos-Kaap.
Irma Booysen-blomreservaat
Nadat jy vroegmiddag by jou selfsorghuisie in die oord ingeboek het, ’n klein rugsakkie met iets om te drink en aan te knibbel ingepak het, kan jy op eie houtjie die Irma Booysen-blomreserervaat gaan verken.
Die reservaat is vernoem na oorlede Irma Booysen wie se ouers die oorspronklike eienaars van die plaas Ongegunde Vryheid was wat later as ’n informele nedersetting ontwikkel sou word. Booysen het haar man oortuig om ’n gedeelte daarvan uit te hou vir die bewaring van die unieke fynbos wat in die omgewing voorkom.
Op die gemaklike 6 km-sirkelroete is daar meer as genoeg asemrowende tonele en die uitsig strek verder as die Seal Point-vuurtoring wat op die mees suid-oostelike punt van Afrika gebou is, so onthou dus om jou kamera of slimfoon saam te neem sodat jy later by jou vriende en familie, wat verkies om eerder hulle tyd tuis op die rusbank te verwyl, kan gaan spog.
Kanaalvaart, kuswoud en KhoiSan-graf
Terug by die oord kan jy die son sien sak tydens ’n opsionele kanaalvaart wat jy vooraf moet bespreek.
Besoek die Full Stop-restaurant of Joe Fish vir ’n vars stukkie vis of as die kinders te woelig is kan jy ’n vuur-tjie aansteek en self ’n vleisie oor die kole braai.
Die tweede dag sal jy na die Eskom-bewaringsreservaat aan die buitewyke van St. Francisbaai geneem word vir ’n begeleide 16km-stap terug na die vakansieoord.
Tydens die uitstappie kan jy vele hoogtepunte soos die stap deur ’n inheemse kuswoud en die duineveld en verby ’n ongemerkte KhoiSan-graf te wagte wees.
Op die roete sal jy ook die tweede grootste blaasgat in Suidelike Afrika kan sien en verby minstens twee skeepswrakke stap – die eerste dié van die Osprey, wat in 1867 ge-strand het.
Seal Point-vuurtoring
Op dié dag kan jy ook naby-foto’s van die Seal Point-vuurtoring neem. Die vuurtoring is gebou in 1876, is 27,75m hoog en die hoogste vastestruktuur vuurtoring in Suid-Afrika.
Byna 50 jaar nadat die vuurtoring gebou is, het die Cape Recife ongelukkig in 1928 ook hier gestrand omdat die sig geweldig swak was in die digte mis, vuurtoring ten spyte. Sou jy kortpad terug na die Oord neem en deur die strate stap, sal jy opmerk dat al die strate vernoem is na skeepswrakke in die omgewing. Tuis by die oord kan jy in een van die oord se swembaddens gaan afkoel voordat jy planne beraam vir aandete.
Sluit die derde en laaste dag af met ’n 12 km-sirkelroete wat jy vanaf die oord via Shark Point tot in St. Francisbaai kan gaan stap.
Dit word sterk aanbeveel om ’n calamari-proe by Chokka Block in Port St. Francis by te woon. Dit sluit ’n praatjie en chokka-skoonmaakdemonstrasie in, en moet vooraf bespreek word.
Ná só ’n naweek in die buitelug behoort jy ’n goeie dosis vitamien D sterker te wees en weer vir nog ’n rukkie van sosiale distansiëring kans te sien.
- Skakel of stuur ’n WhatsApp aan Esti Stewart by 073 825 0835 of stuur ’n epos aan haar by chokkatrail@gmail.com vir meer inligting.



