LEON noem homself ’n “fotograag”. Vir hom is foto’s neem soos asemhaal, ’n plesier, hy doen dit graag. Ek daarenteen, was ’n oorywerige amateur wat koerantfoto’s kon neem, en gedog het trou-, doop-, matriekafskeid- en begrafnisfoto’s kan nie veel anders wees nie.
So het ek dure lesse geleer en op wonderbaarlike maniere verleent-hede vrygespring. Dit was veral mense wat vir die tweede, of derde kere getrou het, of waar daar kinders betrokke is, dat mens gevra word om “asseblief tog gou ’n ou paar fototjies te kom neem.”
“Die paar foto’tjies” was vir my telkens so stresvol. Ek kon nie naastenby die kalmte van Leon Fotograag hê nie. Ek het tog geglo as jou kop en hande reg is, en jy kan lees daarby, kan jy alles doen! Maar foto’s neem is ’n ander storie.
Soos die keer toe die bruid se ma my vra “vir ’n paar fototjies”.
Ek is mos nie ’n professionele foto-graaf nie, en kan dus nie sodanige fooie vra nie. Ek is net gewillig om op kort kennisgewing in te spring. Die ma was tevrede om die risiko te neem, en ek moes ’n filmrolletjie van 36 vol neem. Drie vergrotings is deel van die aanbod.
Ek het seker gemaak daar is ’n film in die kamera. Die batterye vir die flits is vars. So gereed as wat ek kan wees, daag ek op by die ouerhuis. My planne om vollengte foto’s van die bruid in die tuin te neem, het gesneuwel saam met die deurdringende reën. Weens ’n gebrek aan ’n verskeidenheid lense, het ek die mooie bruid teen die kombuiswasbak voor gedrapeerde gordyne laat staan, sodat ek genoeg afstand tot buite die voordeur kon kry om die rok af te neem. My senuwees was aan flarde.
By die kerk het ek mooi foto’s ge-neem toe die betraande pa sy dogter die tweede keer aan ’n skoonseun afgee. Dis toe ek gaan sit, dat ek sien die spoedverstelling het in die harwar geskuif. Ek was te onervare om te weet wat die gevolge gaan wees. Ek stel dit inderhaas weer reg, en kliek vrolik voort.
Toe ek die ontwikkelde foto’s na ’n paar dae kry, het slegs twee derdes van ’n foto ontwikkel – die res is pikswart. Ek het daar in Daryl se winkel verdrietig in trane uitgebars. Ek kan hulle mos nou nie weer laat trou nie!
My liewe bloemiste-vriendin, Linda, stap verby met ’n aflewering, wat sy terstond in my arms druk in ’n poging om die tranedal te stop. Daryl het soos ’n wafferse held die foto’s ’n groter formaat gedruk. Ons sny toe die swart stroke af, en hy druk toe ses, in plaas van die beloofde drie vergrotings.
Toe ek die foto’s ewe kordaat aan die bruidsmoeder oorhandig, was sy vreeslik ingenome met die andersoortige formaat, en baie dankbaar oor die pragtige vergrotings.
“Dis jammer daar is nou nie een van die hele rok nie, maar ons is baaaiiiee tevrede,” seg sy ingenome.
Daar is nie iemand meer dankbaar vir digitale- en selfoonkameras as ek nie. Nou is ek ook ’n fotograag.




