Nataniël, Elsabé Zietsman, Amanda Strydom, Valiant Swart en Hannes van Wyk is maar van die kunstenaars wat volgende jaar te sien sal wees op Jeffreysbaai tydens Kunskoors wat van 1 tot 3 Mei 2025 aangebied sal word.
Dit is ’n kunstefees in die kleine wat nasionale en plaaslike kunstenaars die kans gee om op te tree, hulle talent te wys en vir inwoners om kwaliteit kuns in al die genres te geniet. Daar sal ’n verskeidenheid aanbiedings wees van boekbesprekings, woordkuns, teater, klassieke musiek tot werkswinkels, visuele kuns, en ballet.
“Die doel is om inwoners se lewenskwaliteit te verhoog sonder om ver te reis. Dié fees het ook opvoedkundige waarde en sal die ekonomie van die streek ‘n hupstoot gee. Ons wil ook die dorp se beeld uitbrei – dit hoef nie net bekend te wees vir die goeie branders nie, maar ook goeie kuns,” sê die feesdirekteur, Soria Swart.
Daar sal van boekbesprekings deur Hannes van Wyk wees, pianis José Diaz, twee plaaslike operasangers Lesego Mkhwanazi en Lucretia Sikwebu, tot die Black Tie ensemble, eenvrou vertoning met Madri Sutherland, en skrywers soos Francois du Randt.
Verskeie kunstenaars
Die KunsKronkel beloof om iets spesiaals te wees. Koördineerder Zuanda Badenhorst sê die opwinding gaan by ’n parkeerarea in die dorp begin waar ’n ’kunskoets’ ’n groep sal oplaai. “Vandaar sal hulle na verskeie kunstenaars se ateljees geneem word om te sien hoe hulle skep en te hoor wat in hulle gedagtes was tydens die skeppingsproses, en sal ietsie te drinke kry,” sê Badenhorst.
Die MusiekKoors program gaan hoofsaaklik klassieke-musiekkonserte aanbied, en koraal- en opera musiek sal die fynproewers tevrede stel. Verskeie ensembles sal optree. Die uitgelese musici is van Jeffreysbaai en Gqeberha. Die Oos-Kaapse Kinderkoor sal slegs een keer op 1 Mei saam met volwasse kore optree. Dié optrede is gratis – ’n kollekte sal gevra word.
TeaterKoors sal hoog loop wanneer die oudste amateurtoneelgeselskap in die land, Peaat, ’n teaterstuk bring. “Ons plaaslike akteurs is knap en hoef vir niemand terug te staan nie. Van hulle sal as byspelers gebruik word in professionele stukke,” sê Swart.
Paspoort
Feesgangers sal ’n feespaspoort kry om mee te ‘reis’ van een aanbieding na ’n ander. By elke venue sal die feesganger ’n stempel kry. Aan die einde sal dit jou toegang gee tot die laaste dag se spesiale feesete.
Dorp baat by die Koors
“Die idee is dat die dorp se kleinbesighede moet baat by die fees. Daar gaan geen biertente en stalletjies wees nie. Ons vra feesgangers om die plaaslike eetplekke te ondersteun. Hulle sal op eie inisiatief ’n feesaanbieding hê. Ons gaan ook bestaande lokale gebruik vir die optredes. Dis wonderlik hoe kerke byvoorbeeld multifunksioneel kan wees,” verduidelik Swart.
Sy sê hulle het al ’n hoofborg, maar het nog heelwat steun nodig. “Ons wil graag die kunstenaars goed betaal. Dit sal gaaf wees as borge by die gees van die fees pas. Hulle sal beslis die nodige blootstelling kry.”
Feeskomitee woeker
Die feeskomitee wat woeker om alles gereed te kry is Soria Swart (feesdirekteur), Rose Graham (musiekkoördineerder), Zuanda Badenhorst (visuele kuns koördineerder), Estelle de Beer (boeke en –besprekings), Jurie Steenkamp (media) en Gert van Schalkwyk (teater).
Merk datums op die kalender
Die feesprogram sal in November 2024 beskikbaar wees. Besprekings sal dan aanlyn deur Quicket gedoen kan word, of by Seashells in Da Gamaweg se kantoor gekoop word.
Volg ook die feesnuus op die Facebook blad KUNSKOORS.





