Met die aanvang van fase 2 van COVID-19 inentings, word die vrae rondom inenting al hoe meer soos mense die besluit moet maak om te registreer om ingeënt te word. JOANÉ AZENHA het met gesondheidswerkers gesels oor hulle ondervinding rondom die inentings wat hulle gedurende fase 1 ontvang het.
Plaaslike gesondheidswerkers Altus en Liesel Venter het albei COVID-19 gehad gedurende Desember 2020, en het nie erge simptome ervaar nie Hulle was moeg, het hoofpyne gehad en die kenmerlike verlies van smaak- en reuk-sintuie het by Liesel voorgekom. Hulle het albei onlangs die Covid-19 inenting ontvang.
Wat het jou laat besluit om die inenting te kry?
Altus: Ek weet dat inenting die beste manier is om hierdie virus te beveg en weer ’n “normale lewe” te kan hê. Ek was glad nie skrikkerig om dit te kry nie.
Het jy enige newe-effekte ervaar nadat jy die inenting gekry het?
Altus: Ek was effens moeg na die tyd, maar het nie eintlik enige newe-effekte gehad nie.
Watter raad het jy vir mense wat onseker is oor die inenting?
Altus: Baie navorsing het ingegaan om hierdie inentings te ontwikkel en om dit veilig te bewys. Die wetenskap agter inentings is baie noukeurig gedoen en wetenskaplikes het etlike dekades se ondervinding daarin. Ek glo almal kan gerus wees daaroor dat hierdie inentings veilig en baie effektief is om weerstand op te bou teen COVID-19.
Liesel noem dat die inenting hulle albei se lewenskwaliteit verbeter het. “As werkers in die mediese veld voel ons uiters bevoorreg dat ons wel gekwalifiseer het om die inenting te ontvang. Alhoewel ons reeds die virus gehad het, het ons steeds besluit om die inenting te kry sodat ons risiko om dalk die virus aan ons geliefdes, pasiënte en dokters oor te dra, verminder.
Dit is ons plig om alles in ons vermoë te doen om die verspreiding van die virus te bekamp om sodoende uiteindelik hierdie ding te kan stop sit en die enigste manier om dit te doen is om te verseker dat almal ingeënt word.”
Ons het ook met bekende apteker, COVID-19-kampvegter en -kenner, Louis van Dyk, gaan gesels om vir hom ’n paar meer tegniese vrae te vra.
Waarom is dit belangrik dat mense ingeënt word?
Louis: Die belangrikste redes is om immuniteit teen die virus te hê en ook genoeg mense in te ent om “herd immunity” te bereik. Met dié versprei die virus minder en muteer stadiger. Die inenting gaan nie net oor die persoon wat dit kry nie, maar ook ter beskerming van diegene om ons.
Sal dit nie net so goed help as ’n mens die gewone griepinspuiting kry nie?
Dié griepinspuiting teiken die Influenzavirusse, spesifiek die vier subtipes wat die winter voor ons s’n vanaf die noordelike halfrond af migreer deur internasionale reis. Ons het nie verlede jaar ’n griepseisoen gehad nie, want internasionale reis is minimaal. Ek glo ook nie dit gaan vanjaar baie prominent wees nie. Influenza is baie minder aansteeklik as die SARS-COV2 virus, maar veroorsaak steeds komplikasies in ouer en hoë risiko individue soos longontsteking.
COVID-19 se komplikasies is nie net in die longe nie, maar ook in baie ander orgaansisteme. Die belangrikheid van die inenting blyk dus nie net om dood te voorkom nie, maar ook die komplikasies van dié siekte te bekamp.
Wat is die risiko’s verbonde aan die inenting?
Korttermyn effekte van die entstof is gewoonlik lyfseer, kopseer, moegheid en koors in sommige gevalle. Meestal net vir 1 tot 3 dae. Ek self het na my inspuiting vir ’n middag kopseer gehad en effense moegheid. Die newe-effekte wat mens aanvanklik ervaar is weens ’n immuun-reaksie waar die liggaam begin teenliggaampies maak teen toekomstige infeksies.
Is dit steeds nodig om die inenting te kry indien ek reeds die virus gehad het?
Die immuunreaksie na ’n COVID-19 infeksie is nie so goed soos met die entstof nie. Dus is mens nie ten volle beskerm teen toekomstige infeksies nie. Die liggaam produseer meer teenliggaampies wat vir langer hou na inenting. Die nuutste data wys ook dat inenting na infeksie nog sterker immuniteit kan bring.
Is dit nie beter om te wag vir “herd immunity” nie?
Die siekte is te dodelik en die virus muteer te vinnig om te wag vir herd immunity. Baie mense gaan hulle lewens verloor of met langtermyn komplikasies sit van die siekte. Ons immuniteit is ook geneig om te kwyn met tyd en dis waarom die siekte in vlae kom. Mutasies veroorsaak ook dat immuniteit teen een weergawe van die virus nie noodwendig teen nuwe mutasies sal beskerm nie. Dit blyk veral die geval te wees met die Suid-Afrikaanse variant en nou die Indiese variant.
Laaste woorde aan ons lesers?
Die studies oor die entstowwe is van ’n goeie gehalte en die tegnologie wat hulle gebruik om dit te produseer is fantasties. Die feit dat hulle veilige effektiewe entstowwe in ’n relatiewe kort tydperk kon ontwikkel is in my opinie ’n wonderwerk. My wetenskaplike en persoonlike opinie is dat massa-inenting van die wêreld se bevolking die enigste manier is om hierdie siekte onder beheer te kry. Ek is in ’n posisie waar ek met die siekte en pasïente kon werk, waar ek self die siekte gehad het en steeds met komplikasies sukkel en die inspuiting reeds gehad het. So ek kan die saak uit alle oogpunte analiseer en my mening gee.



