Bekende regspraktisyn in die Kouga-distrik, Christo “Swannie” Swanepoel het op 3 Februarie die stryd teen die Coronavirus verloor. Sy afsterwe laat ‘n groot leemte in die gemeenskap. Joané Azenha het met sy seun, Ryno Swanepoel wat tans in Holland woon, gesels.

Swannie was drie weke lank in St. George’s-hospitaal in Port Elizabeth, waarvan hy twee weke lank aan ‘n ventilator gekoppel was. Sy familie glo dat diabetes, asook ander onderliggende toestande ‘n rol gespeel het daarin dat hy eindelaas sy stryd met die virus verloor het.

Hy het na raming oor die jare meer as 10 000 kliënte gehad, wie hy met groot ywer en baie sukses verteenwoordig het.

‘n Paar interessante feite oor die lewe van Christo Swanepoel:

  • Hy begin sy loopbaan in ‘n spesiale eenheid van die polisie, waarna hy hom as regsgeleerde bekwaam en as staatsaanklaer en landros werk. Sedert 1998 praktiseer hy as ‘n prokureur in die Kouga-omgewing.
  • Hy was alombekend as ‘n deskundige in strafreg.
  • Jare gelede het hy die belastingbetalers van Jeffreysbaai bygestaan om hul saak van die hoogeregshof, tot die hoogste hof van appèl, en uiteindelik aan die  konstitisionele hof te stel, om te verhoed dat munisipale eiemdom soos die eiendom waarop die Supertube by die Hoofstrand gebou is, onderverdeel en  verkoop word.
Christo Swanepoel. Foto: Verskaf
Christo Swanepoel. Foto: Verskaf

Albei sy seuns het LLB studeer en een van sy twee dogters is tans besig met ‘n nagraadse LLB. Saam beplan hulle om die kommersiële afdeling van sy praktyk voort te bou, met die fokus op oordragte, boedelbeplanning en herstrukturering.

Die Swanepoel-familie het hul dank aan die gemeenskap uitgespreek vir al hul ondersteuning.

“Ons het afskeid geneem van Man, Pa, Oupa en Broer, Christo Francois Swanepoel (7-1-1965 tot 3-2-2021).

“Ons harte is seer, ons gaan hom baie mis. Dit was nog nie sy tyd nie, maar ons het diep vrede ons harte dat hy ons net vooruitgaan.

“Dankie dat julle saam met ons in geloof staan. Ons loof en prys die Here steeds vir sy goedheid! Ons sien nie altyd geneesing/verlossing onmiddelik nie, en dit lyk nie altyd dieselfde nie, maar dit is deur Jesus gewaarborg! Vir die Here is tyd maar relatief. Die woord sê vir Hom is een dag soos ‘n duisend jaar, en ‘n duisend jaar soos een dag. Vandag is Pa verlos van Covid.

“Ons gaan sy lewe celebrate en nog baie lag wanneer ons strories vir die kleinkinders vertel,” het die familie vertel.

Hy word oorleef deur sy vrou, vier kinders en skoonkinders, en een kleinkind.

Begrafenisreëlings sal gepubliseer word sodra dit gefinaliseer is.

Die familie beplan ook om die begrafenis regstreeks uit te saai vir diegene wat dit nie persoonlik kan bywoon nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article