BINNE die bestek van ’n maand is meer as die helfte van een gesin van Humansdorp weens COVID-19 uitgewis.

Bokkie Els, wat voorheen aan AVBOB in dié dorp verbonde was, moes onlangs sy vrou en twee dogters aan die dood afstaan, twee van hulle in dieselfde week.

Martie Els het in Augustus aan COVID-19 gesterf, vier dae voor haar oudste dogter en omtrent ’n maand voor haar jongste. Foto’s: Verskaf

Els, wat volgende maand 73 jaar oud word, sê dat sy vrou en oudste dogter om en by dieselfde tyd weens die virus siek geword het.

Sy 70-jarige vrou, Martie, is op 2 Augustus oorlede en sy oudste dogter, Mart Mare Els (49) vier dae daarna, op 6 Augustus.

Sy jongste, Anneke du Preez (45) het drie weke lank in ’n hospitaal in Nelson Mandelabaai om haar lewe geveg, maar uiteindelik op 3 September die stryd verloor.

“Die beste herinneringe wat ek van my vrou en kinders sal onthou is hulle liefde vir kinders,” sê Els voor sy stem breek.

“Anneke is die een wat twee kinders nalaat, ’n seun en dogter, Tremaine en Tinneke,” voeg hy hartseer by.

“Ek het nog net ’n seun oor en vier kleinkinders. My gesondheid is darem goed.”

Els sê hoewel dit vir hom ’n geweldige slag was om die drie vroue in sy lewe so kort na mekaar te verloor, is daar niks wat hy kan sê nie omdat dit die Here se plan was.

“Wat kan ’n mens sê? Die Here se Wil het ge-skied en ons berus daarby.”

’n Kollega van Mart Mare, wat die afgelope vyf jaar by die Humansdorp-museum gewerk het, het gesê dat dit vir hulle ’n verskriklike slag was om haar te verloor.

Mart Mare Els is ook in Augustus aan COVID-19 dood, vier dae ná haar ma. Haar jongste suster is vroeg in September ook aan die virus dood.
Anneke du Preez, jongste dogter van die Els-gesin, is vroeg September aan COVID-19 dood.

Tesourier van die Humansdorp-museumver-eniging, Petro Meyer, noem dat Mart Mare ’n onskatbare bydrae gelewer het om uitstallings in die museum te verbeter, besoekers aan die museum welkom te laat voel en interessante feite en staaltjies te deel.

“Mart Mare was passievol oor die bewaring van artefakte en het ’n wye kennis gehad van die geskiedenis van Humansdorp en omgewing wat sy met oorgawe gedeel het.

“Voor die COVID-pandemie is gereelde byeenkomste vir inwoners van Ons Tuiste gehou waartydens alherhande interessante onderwerpe bespreek is.

“Kinders van die omgewing is gereeld bederf met poppespel in die museum en alherhande praatjies in samewerking met ’n verskeidenheid sprekers. Sy was geliefd by ouer mense sowel as kinders wat na haar verwys het as ‘die museumtannie’,” sê Meyer.

“Danksy Mart Mare se toewyding het skole ook gereeld die museum besoek waartydens interessante artefakte aan leerders uitgewys is en hulle meer te wete gekom het van die geskiede-nis van Humansdorp. Sy het geesdriftig beplan aan nuwe idees om ná die inperking die museum verder uit te bou.”

Sy voeg by dat die Humansdorp-museumver-eniging se komitee Mart Mare se vriendelikheid, toewyding en onbaatsugtige diens aan die mu-seum ontsettend sal mis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article