AS jy van inkvis hou, maar nog nie by Clive’s Chokka Block in Port St Francis dit geëet het nie, kan jy nie met die smulpape saampraat wat al daar ’n draai gemaak het nie.

Clive
Clive wys hoe ’n inkvis sommer maklik van die hoek af geskud word. Foto’s: WILLEMIEN GREEN

Inkvis word net in Suid-Afrika tjokka ge- noem en as dit in jou bord beland is dit calamari.

Clive Canter, oorspronklik van Mauritius en wat in Natal grootgeword het, is reeds meer as 28 jaar in die kosbedryf bedrywig en staan nie verniet as die Tjokkaman van die Oos-Kaap bekend nie.

So ’n paar jaar gelede het Clive besluit dat dit tyd was om “rustig” te raak (hy het gewoonlik die wêreld vol agter al wat ’n restaurant en konferensie is aangevlieg) en sy eie restaurant oop te maak.

Dit was juis toe dat ’n geleentheid opduik om die reeds bestaande, maar nie meer so gewilde Chokka Block in Port St Francis te koop.

“Toe ek teen die einde van die dag die transaksie beklink, het ek lekker benoud vir Samantha, (my vrou) in Natal gebel,” sê Clive.

“Ek was nie meer so seker dat dit die regte besluit sou wees nie omdat ek dié plek van voor af sou moes opbou.”

“Boon-op moes ek op ’n nuwe naam daarvoor besluit en na nagte se rondrol het Samantha, teen die tyd al moeg vir my besluiteloosheid, voorgestel dat ek die Chokka Block behou maar dit net Clive’s Chokka Block noem, dit is immers mos my restaurant!”

Die restaurant se gewildheid het vinnig toegeneem en het reeds verskeie toekennings waaronder die Travellers’ Choice 2020 ontvang waarop Clive baie trots is.

Clive’s Chokka Block by die Port St. Francis hawe.

Behalwe vir die heerlike vars seekos (daar is ook verskeie ander geregte op die spyskaart vir diegene wat dit sou verkies) bied Clive ook ’n tjokka-proe wat met ’n interessante praatjie gepaard gaan, aan.

Terwyl jy aan ’n glas wit wyn teug en aan sy lippe hang, gaan daar vir jou ’n wêreld oop waarvan jy dalk voorheen min tot niks geweet het nie.

Wat is die verskil tussen ’n inkvis en ’n see-kat? Hoe vang mens hulle? Hoe maak jy hulle gaar? Hoekom proe vars calamari soveel lekkerder as die ingevoerdes?

Tydens Clive se praatjies, gebruik hy video’s en skyfies om sy woorde “lewe” te gee en die wat dit reeds bygewoon het kan nie oor die ondervinding uitgepraat raak nie. Die tjokka-demonstrasie begin met ’n heel inkvis wat Clive stuk vir stuk uitmekaar haal en elke deeltjie mooi aan jou verduidelik.

Jou verbeelding word aangryp wanneer hy jou vertel hoe ou seemanne hulle notas gemaak het met die ruggraat van die inkvis wat kompleet soos ’n veer lyk en waarvan die punt dan in dieselfde vis se ink gedoop was om mee te skryf.

Deesdae word die ink gebruik om risotto en pastas mee te kleur.

As jy twee van die ruggrate langs mekaar neerlê kan jy jou ook verbeel dat dit soos twee feetjievlerke lyk, ragfyn en deurskynend.

“Min mense besef dat die calamari wat in Suid-Afrikaanse restaurant bedien word hoofsaaklik van Suid-Amerika af ingevoer word,” sê Clive. Dié calamari word chemies behandel om dit te bewaar vir wanneer dit uitgevoer word.

Uitsig oor Port St Francis se hawe.

Dit is ook hoekom die calamari dikwels taai en smakeloos kan wees.

Loligo vulgaris reynaudii, oftewel inkvis wat gewoonlik vanaf Transkei tot net anderkant Mosselbaai teen die Suid-Afrikaanse kus uitgetrek word, word onder meer na Europa en ander lande uitgevoer.

“Dit is net meer winsgewend, omdat die lande bereid is om duur vir die lekkerny te betaal,” verduidelik Clive. “Jy kan maar sê die vangs is verkoop voor dit nog op die tjokkaboot uitgetrek word.”

In Suid-Afrika word tjokka met ’n handlyn uitgetrek wat baie meer genadig is as die meganiese metodes in sommige ander lande.

Clive
Volgens Clive is die beste manier om die calamari gaar te maak deur dit net in botter met bietjie kruie te braai.

“Die manne is goed bedrewe daarmee en hanteer meer as een handlyn op ’n slag,” sê hy.

“Die tjokka word dan in tjokka-panne net daar op die tjokka-treilers gevries en weer op land in bokse verpak voordat dit uitgevoer word. Ek is bevoorreg om bande met die mense hiér in die industrie te kon smee en koop my tjokka as dit van die boot afkom.”

“Al die seekos wat ons bedien is vars en selfs die hoendertjies wat so smaaklik proe loop vry op die plaas rond!”

Maar, die hoogtepunt van die tjokka-proe is die tong-tippie-toets teen die einde van die praatjie wanneer jy ’n variasie van calamari, ingevoer sowel as vars Suid-Afrikaanse calamari, kan proe.

Wees dus gewaarsku dat as jy eers jou smaakkliere met dié murgsagte en geurige Suid-Afrikaanse inkvissie gekielie het, jy des moontlik jou volgende vakansie in die Oos- Kaaps om Clive’s Chokka Block sal moet reël!

Bel Clive by 082 576 0192 of Samantha by 060 305 0972 om plek vir die tjokka-proe te bespreek of gaan stap sommer die Tjokka-stap- roete en dan is die ervaring op die vierde en laaste dag daarby ingesluit!

Skakel Esti by 073 825 0835 of stuur epos aan haar by chokkatrail@gmail.com vir meer in ligting oor die staproete.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article