Uit die boek ‘Old Jeffreys Bay – Lest we forget’ deur Bert Behrens). Charles October Hammond en sy bemanning met sy geliefde hond Brag in die water.

Foto: Verskaf

Visvang is al vir meer as ’n eeu deel van Jeffreysbaai se geskiedenis – vir ontspanning en ook kommersieel.

Die bedryf het ook talle visvangstories opgelewer. Sommiges bietjie aangedik, en ander die heilige waarheid. Een ware storie uit die 1940’s is die een van die ervare visserman Charles October Hammond wat die kaptein was van die roeiboot “Poor man’s friend”.

Waaksame vriend

Hammand se hond, Brag, was sy béste vriend. Die hond het sy baas nooit uit sig verloor nie. ’n Niggie van Hammond, Rosie Hammond, het vertel dat haar oom soggens 03:00 opgestaan het om gereed te maak vir die dag op see. Dan was Brag al opgewonde en aan die blaf. Wanneer hulle dan op die strand kom, het Brag almal stertwaaiend gegroet.

Terwyl Hammond en sy span van agt die visgereedskap op die bootjie laai, het Brag sommer tussen hulle bene gestaan van nuuskierigheid. Wanneer die boot uiteindelik die golwe aandurf, het Brag op die strand op en af gehardloop tot hy hulle nie meer kon sien nie. Dan het hy by die hoogwatermerk gaan lê met sy kop op sy pote, en sy oë waaksaam op die oseaan.

As hy dan die boot ongeveer 14:00 se kant sien aankom, het hy weer op en af gehardloop, geblaf en getjank, en niks kon sy aandag aftrek nie.

Stormweer

Maar op ’n dag het die see sy kwaai kant gewys. Die wind het skielik woes begin waai, die mis het oor die see gehang en die see het baie rof geword. Die manne moes omtrent roei om strandwaarts te gaan.

Rosie Hammond sê haar oom het haar vertel van die sterk stroom wat hulle van koers af gegooi het. Haar oom het vir die bemanning geskreeu dat hulle alles moet uithaal met die roeiery om veilig by die strand te kom. Meteens het ’n reuse brander oor hulle gebreek. Die bootjie het omgeslaan en die manne het almal in die see beland. Gelukkig het niemand verdrink nie.

Brag het intussen die see ingehardloop om sy baas te probeer red. Dieselfde stroom wat hulle so on-kant gevang het, was te sterk vir die dappere Brag.

Treurige afskeid

Rosie sê haar oom se hart het gebreek toe hy aanskou het hoe sy beste vriend se kop onder die water verdwyn, en hy magteloos moes toekyk. Hy het nooit weer sy geliefde Brag gesien nie.

Vir maande lank het trane telkens oor Hammond se wange gerol as daar van Brag gepraat word. Dit was ook eers baie lank daarna voor dié visserman weer homself was ná sy verlies.

  • Bron: Old Jeffreys Bay – Lest we forget deur Bert Behrens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article