Vyf jaar nadat ’n erf aangekoop is vir die bou van ’n privaathospitaal in Jeffreysbaai, het konstruksie onlangs eindelik begin. Die ontwikkelaars beplan dat die projek teen Oktober 2021 voltooi sal wees.
Die hospitaal, wat op Erf 8632, Fountains Estate op die hoek van Blaaukransstraat en Outeniqua-rylaan gebou word, sal onder meer 60 beddens en vier teaters kan akkommodeer.
Die hospitaal sal ook spog met verskeie afdelings, waaronder radiologie, ongevalle, ortopedie, verloskunde, pediatrie, algemene chirurgie, ’n apteek en koffiewinkel.
Volgens die besturende direkteur van die Medical Forum Theatre-daghospitaal in Port Elizabeth, Dr Andries Marais, regverdig die ontwikkeling van en bevolkingsgroei in Jeffreysbaai asook die Kouga-streek, ’n privaathospitaal.
“Dit is bevestig met demografiese stu-dies. Die meeste pasiënte moet tans na Port Elizabeth reis vir enige privaat hospitali-sasie. Deel van die eerste fase is ook om spesialistekamers te bou om die mediese dienste toegankliker te maak,” het Marais gesê.
Hy het bygevoeg dat Jeffreysbaai se ontwikkeling onder meer weens ’n gebrek aan kwaliteit hospitaalfasiliteite gekniehalter word.“Die ontwikkeling van die hospitaal sal as katalisator dien vir ’n oplewing in Jeffreysbaai se residensiële mark asook sy af-treeoorde.
“Soos die Suid-Kaap ’n invloei van be-volking ervaar, sal die hospitaal verdere ontwikkeling in die Kouga-streek bevorder,” het Marais bygevoeg.
Die hoof uitvoerende beampte van XHealth, wat verantwoorderlik sal wees vir die hospitaal se bestuur, Willie Wiid, het bevestig dat die hospitaal ook protokol in plek sal hê om COVID-19 gevalle te hanteer. Volgens hom sal daar ook ongeveer 100 permanente poste beskikbaar wees sodra die hospitaal se deure open.
“XHealth besit ook hospitale in ander provinsies en Jeffreysbaai-privaathospitaal is ons nuutste projek. “Ons gaan ook volgende jaar begin met die konstruksie van ’n hospitaal in King William’s Town wat oor 100 beddens sal beskik,” het Wiid gesê.



