DIE nasionale tydrenreeks, wat vanjaar net uit voorwielgedrewe 1.6-liter-motors bestaan (benewens die klassieke en klubmotors wat agterna jaag), het tot dusver in ’n netjiese driestryd tussen Toyota, Volkswagen en Ford ontwikkel. Die bordjies is egter die naweek in die Oos-Kaap verhang.
Die Algoa-tydren (voorheen die Volkswagen-tydren) is deur die Toyota Etios-jaer Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, gewen – hul derde sege in ’n ry nadat hulle nie die seisoen se openingsren kon voltooi nie. Wat ook al hul tegniese probleme was, dit is nou behoorlik uitgesorteer.
Die naaswenners ná die tweedaagse tydren in en om Port Elizabeth (verlede Vrydag) en deur die Longmore-plantasie buite Jeffreysbaai (verlede Saterdag) was die VW-jaer AC Potgieter en sy navigator, Nico Swartz. Hulle was tot voor die Algoa-ren boaan die punte-leer in die R2N-kampioenskapsreeks.
Die treurmare van verlede jaar se wenners van die VW-tydren, die Ford Fiesta-jaers Richard Leeke en Henry Köhne, het effens tot ’n halt gekom nadat hulle ná hul sege in die openingsren in KwaZulu-Natal geen punte in die volgende twee byeenkomste aangeteken het nie. Hulle was Saterdag derde.
Die bestendige vertoning van Potgieter en Swartz, vanjaar nog segeloos, het hulle nou in die tweede plek op die punteleer geplaas nadat Botterill-hulle die agterstand uitgewis, ingehaal en almal met hul Algoa-oorwinning verbygesteek het.
“Iets soos ’n maklike sege bestaan nie in die nasionale kompetisie nie, en nog minder wanneer dit in en om Port Elizabeth is,” het Botterill by die eindpunt in die Vriendelike Stad gesê.
“Maar ek moet erken, ons was gelukkig dat ons dié keer ’n skoon lopie gehad het.”
Die Etios, Toyota se amptelike inskrywing, was foutloos en Botterill-hulle het ál die sneltrajekte behalwe die laaste drie van die byeenkoms se 11 sneldele gewen.
Hulle was uiteindelik 1 minuut 27 sekondes voor Potgieter, met
Leeke derde.
“Toe ons voorsprong tot langer as ’n minuut gerek het, het ons besluit om ’n bietjie rustig-er te ry en net ons punte om die titelstryd te beskerm,” het Botterill bygevoeg.
Jono van Wyk was vierde in ’n Fiesta, gevolg deur Chris Coertse in ’n Mazda2.
Rory Eland (Subaru Impreza) het die afde-ling vir oopklasmotors gewen nadat die nuwe Polo Cup-tydrenmotor van Hergen Fekken in die tweede sneltrajek aan die brand geraak en uitgebrand het.
Die volgende ronde in die nasionale tydrenreeks vind plaas in Gauteng in die omgewing van Bronkhorstspruit, oos van Pretoria. Dit word op 17 en 18 Augustus beslis.


