Vermoedelik het die feit dat my nooiensvan Bosch is, iets daarmee te doen dat ek gek is oor bome.
Dit breek my hart as ek sien bome word verniel, en dit gee my eweneens groot vreugde as ek sien hoe vry die bome in ’n bos groei en gedy.
My gunsteling plek op aarde is die bosse by Nature’s Valley. Waar ek bome kan omhels, die blare ruik en die skurwe stamme my wang kielie.
Vir my simboliseer bome standvastigheid, lewe en groei.
Toe ons tweejarige dogtertjie, Yolanda, in 1989 oorlede is in ’n motorbotsing, het my liewe vriendin Anita vir haar ’n boom geplant in hulle tuin. Ons kon die boompie sien groot word, sien mooi pienk blomme dra, en skadu gee. Selfs weens die dood, het daar weer lewe voortgespruit. Die lewende boom het my veel meer gebied as die koue grysheid van ’n grafsteen.
Dit het my onder andere genoop om met die geboorte van my kleinkinders vir hulle ’n boom te laat plant. Sodat hulle kan saam grootword, die vrugte en die skadu kan geniet. Heston is op 27 Februarie 2008 gebore, en ek het vir sy ouers ’n olyfboompie gegee.
Die ou boompie het maar daar langs die huis gestaan en stilletjies gegroei. Niks buitengewoon nie. Heston het vinnig gerek op ’n stadium en hy het die boompie verbygesteek.
En toe het die olyfboom weer verby die lange tiener geskiet. Nooit ’n enkele olyf gedra nie.
En jou waarlik, ’n week nadat Heston vanjaar sy sestiende verjaarsdag gevier het, het die olyfboom, wat nou al dakhoogte is, se takke opeens krom gehang van die olywe. Die eerste keer ooit in die sestien jaar lewer dié boom ’n magiese oes.
Almal op die werf het help pluk – emmers en skottels vol! My dogter Erika en skoonseun Dawson het ingespring en resepte begin soek vir die oorvloed olywe. ’n Hele 100 kilogram daarvan! Nadat die lotjie gesorteer is en die vrottes en gesteektes uitgegooi is, is sowat 80 kilogram uiteindelik ingelê van die enkele boom se oes! Daar is variasies met knoffel, roosmaryn, peper, rissies en tiemie gemaak.
Danksy die hulp van ’n ervare vriendin, is die vrugte eers drie weke in water gelê waarvan die water elke tweede dag geruil is; toe vir twee weke in soutwater, 24 uur in asyn, 24 uur droog gelê en toe ingelê. Eers na nog vier weke kan die spulletjie geniet word.
Heston is vreeslik trots op sy boom se oes. Hy gedy nou nes die boom, bot op verskeie vrugtevolle maniere.
So is mense ook maar soms stadig om tot wasdom te kom. Soms neem dit ’n klomp somers en winters om ons te vorm en sterk te maak voordat die heerlikste vrugte te voorskyn kom.
Die wind suis soms liggies, en ander kere woedend deur die takke sodat die swak en vrot vrugte kan afval. En dan op ’n dag – bot, en bloei en dra die boom oordadig vrugte.
Nou wag ons in spanning om te sien of Yula se pitlose granaatboom ons gaan verras wanneer sy volgende jaar sestien word.




