Baie mense is al besig met beplanning vir die feesgety se groot eet.
Die gewone skaapboud, slaaie en koekstruif is dikwels hoog op die spyskaart. Maar nou hoor ek van ’n paar ongewone Afrikaanse woorde vir ewe ongewone geregte vir ’n Kerstafel.
Hoe sal die gesin hou van pofadders (lewer in ’n vetderm wat soos ’n wors opgestop word en in porsies bedien word) of skilpadjies – ook bekend as Karoomuise (skaaplewer in netvet)?
Of dalk nog smaailies (gebakte skaapkoppe) en bontkos (mielies en bone) met koperpennieslaai (wortelringe en soetrissie repe met ’n skerp sousie) en boeremeisies (appelkose in ’n brandewynsous) of boerejongens (druiwe in brandewyn) op die kant.
Moenie vergeet van die alomgewilde slaphakskeentjies nie. Dis my gunsteling … om weg te lê aan dié klein uitjies in mosterdsous.
Blindevinkies gaan goed hiermee saam. Nee nee, dit het niks met voëltjies te doen nie. Dis dun skyfies biefstuk waarin ’n geurige vulsel toegedraai, met ’n tandestokkie vasgesteek, en dan in die pan gebraai word.
Hoe sal dit wees om bietjie die koekstruif af te wissel met ’n variasie daarvan? Ek is seker almal sal gaande wees oor feetjiepoep wat gemaak word met lae van groot krummels koek, sjerrie daaroor, en dan room en karamel wat saam geklits word.
Afhangende van jou politieke sienswyses, kan jy selfs Hertzoggies of Jan Smutsies oorweeg. Albei is ’n soort jamtertjie, maar die een het ’n deeg-dekseltjie en die ander eierwit en klapper bo-op.
Kinders kan dalk baie hou van oumenswange, die geliefde wit en pienk sagte lekkers met die plat ronde vorm. Of ook ystervarkies, die koekblokkies wat in ’n sjokoladestroop gedoop word en dan in klapper gerol word.
As jy dalk besluit om te gaan uiteet by De Viswijf op Jeffreysbaai, sal jy onder die seekosse op die spyskaart ’n gereg, Jakobboepensies, sien. Dis ’n mooie word, en beteken maar net klein garnaaltjies.
Onder die Kersboom kan dalk geskenke lê van Hermanuspietersfontein se kelders. Die verskillende wyne het die mooiste name: Bloos, Kat-met-die-houtbeen, Kleinboet, Swartskaap, Posmeester en Kaalvoetmeisie.
By Tolbos op Patensie kry jy Rumkat vir die ouens wat dit kan vat, of Brandslang … dié witblits en rissies is nie vir sissies en Withond het ’n gruwelike byt!
Na al die gefuif, sal jy die volgende oggend vir die gaste skurwe Abrahams kan gee saam met die koffie. Of ’n gladdejantjie van al die oorskiet vrugte. Ander sal dalk ’n sagte kalfs-oog (geposjeerde eier) op roosterbrood verkies.
Maar wat is ’n tradisionele saamkuier nou sonder koeksisters en biltong.
Al ooit gedink waar dié name vandaankom? “Koek” kom van die koekdeeg waarvan dié lekkerny in repe gevleg word. En die “sis” kom van die sissende geluid wat dit maak wanneer dit uit kokende olie in koue stroop gedoop word.
Mens kan nog lank na die feesvieringe aan ’n stukkie biltong kou. “Bil” kom van die Nederlandse woord wat “boud” beteken en “tong” dui op “lang stukke vleis. Biltong is dus lang stukke vleis wat uit die boud gesny word.
En wanneer ’n mens nou knuppeldik is van al die lekker eet, mag jy maar ’n welverdiende uiltjie gaan knip.




