DIE strande kan nou weer besoek word en almal, ook dié wat voor die inperking nie juis gereeld ’n voet in die seewater gesit het nie, sal seker vir die volgende paar weke na die strande toe stroom.
Dit sal dalk wys wees om dié toestroming liewers te vermy en net ingeval ons bewegings wéér onverwags gekniehalter word, ’n besoek aan St Francis waar daar hope pret op die kanale en by die Krommerivier-mond aangebied word, te beplan.
Die kanale wat nou so gewild is, is reeds in 1976 voltooi.
“Leighton Hullet wat St Francis begin ontwikkel het, het in 1968 nagenoeg 179 morg in totaal al langs die Krommerivier aangekoop en die kanale self aangelê met ’n bagger (’n tipe vaartuig wat gewoonlik gebruik word om grond of sand onder water mee uit te grawe) wat hyself gebou het,” verduidelik Hantie van der Westhuizen, kantoorbe-stuurder by die St Francis Toerisme-kantoor in dié kusdorp.
“Hullet se seun, Nevil, woon ook steeds in St Francis en is die eienaar van die Quaysyde restaurant.”
Die St Francis kanaal is ook die grootste mensgemaakte kanaal in die land en word ook in die volksmond as die klein Venesië van die Oos–Kaap beskryf.
The Cove, ’n beskutte deel aan die einde van Shore-weg (aan die westekant langs die kanaal) is perfek geleë vir ’n piekniek en kinders kan daar heerlik baljaar sonder dat ’n onwelkome oorontsteking as gevolg van die geniepsige ooste- of westewind dalk die naweekplanne in die wiele ry.
Gedurende die afgelope inperkingstyd was daar kuslangs opmerklik meer vissermanne wat amper met die elmboë moes inlê om ’n staanplekkie op die rotse te kon kry.
Vir diegene wat visvang, maar dit onlangs eers op die proef gestel het (of hulle nou werklik ’n vissie wou uittrek of dalk net van die ge-leentheid gebruik gemaak het om die vars seebries te kon inasem) kan nou gerus hulle visvang horisonne verbreed en vir ’n slag in die pragtige kusdorp se breë kanale gaan lyn natmaak.
Dít boonop met ’n lied in die hart wanneer hulle later die aand weer ’n bekostigbare biertjie kan knak terwyl die vissie op die kole tot eksie perfeksie gebraai word.
Daar is natuurlik ook ander maniere om die kanale te verken.
Huur ’n kano en roei teen jou eie pas terwyl jy die pragtige huise op die oewer van die kanale bewonder of as jou balans goed genoeg is, ’n staanroeiplank (stand up paddling). Of neem deel aan staanroeiplank-joga as jy genoeg energie het.
Groter planke word ook uitverhuur waarop ook kleiner gesinne sommer almal saam op die kanale kan roei.
“Besoekers is welkom om in die gebiede waar dit aangewys word in die kanale te swem of as jy iets meer opwindend wil doen te jet ski, kite en windsurf (veral by die mond van die Kromme-rivier) of waterski,” sê Van der Westhuizen.
“As jy nie lus is om vreeslik aktief te wees nie, kan jy ’n piekniekmandjie met lekker eetgoed en ’n skemerkelkie of twee inpak en ’n kanaalvaart bespreek wat veral gewild is by besoekers aan ons dorp.”
“Jy kan ’n bootvaart bespreek of met jou eie vaartuig so ver as 10km die binneland in op die Krommerivier vaar en langs die rivier gaan piekniek hou.”
Daar is meer as 200 verskillende voëlspesies in die gebied en as jy gelukkig is kan jy dalk ’n swarttobie of visarend gewaar.
Dit is ook nie nodig om die spyse af te skeep nie.
Vir ’n geurige stukkie braai-vleis, smullekker pizza en yskoue plaaslik gebroude bier, besoek die Quaysyde restaurant (042 294 0386) of as jy nou net kan droom van ’n vakansie op die Griekse eilande maak ’n draai by die Big Time Taverna (042 294 1309) vir Griekse cuisine of ’n bordjie vars sushi. As Italiaanse kos egter jou voorkeur is, bespreek vir jou ’n tafel by Café Bijoux (042 294 0006) vir interessante kontemporêre disse.
Die St Francis kanale het Blou- vlagstatus van 2017 tot 2019 ontvang en na ’n besoek daar sal jy saamstem dat dit werklik dié toe-kenning waardig is.
Skakel die St Francis toerisme-kantoor by 042 294 0076 of 083 294 2211 of stuur epos aan office@stfrancistourism.co.za vir meer inligting.
Besoek die webwerf www.stfrancistourism.co.za/contact om ’n kaart van St Francis te besigtig of uit te druk. Die kaart is ook by die toerisme-kantoor verkrygbaar.
Vir ekstra groot staanroeiplanke, skakel 083 945 6804.
Vir gewone staanroeiplanke skakel die Quaysyde restaurant by 063 706 8310 of The Alicat Agency by 082 851 3780.



