’n Bekende inwoner en sakevrou van Jeffreysbaai, Una Blake, het op Kersdag haar 90ste verjaarsdag gevier.
Die Kouga burgemeester, Hattingh Bornman, het ’n spesiale besoek aan haar gebring om die besondere dag te vier.
In sy toespraak het hy ook erkenning gegee aan die nalatenskap van die Blake-familie, soos die steenmakery.
George en Una Blake het op 6 Januarie 1969 die deure van Langkloof Stene oopgemaak en vandag, 55 jaar later, is dit ’n baken van kwaliteit en innovasie.
Vir Una was haar gelukkigste jare saam met George in die besigheid.
Sy bly steeds in dieselfde huis waar sy drie kinders groot gemaak het, en het drie kleinkinders.
Una staan steeds vroeg op, glo aan gedetermineerde en harde werk, en het onwrikbare geloof.
’n Lekker lag, kuier of dans balanseer dit. Sy is ’n uithaler storieverteller met baie interessante staaltjies.
Sy word gekenmerk aan haar netheid en kan altyd deur ’n ring getrek word. Una is haastig, beginselvas, en baie lief vir tuinmaak.
Sy is op Moorreesburg gebore as ’n nooi Louw. Haar paaie met haar man, George, het op Stellenbosch gekruis.
Hulle het saam met sy broers ’n fabriek in Grahamstad begin waar sy ook geboer het voordat hulle Jeffreysbaai toe verhuis het.
As jy die silwer Mercedes met die kenmerkende U Blake -registrasie in die dorp sien ry, lig gerus jou hoed!





