Wilna Moolman (links) en Joan Wait (regs) by ’n vorige geleentheid se konfyttafel. Die basaar se konfyttafel sal weer kreun met die lekkerste tuisgemaakte konfyt.

Foto: VERSKAF

“Vir die eerste keer in byna twee jaar kan ons weer basaar hou!”

Dít is die boodskap vanaf die NG Kerk op Loerie. Die basaar moes telkens as gevolg van die COVID-19 pandemie afgestel word.

Die basaar, ’n fondsinsamelingprojek van die NG Kerk Loerie, word op Saterdag, 27 November op die bekende Nartjiefeesterrein gehou.

Die organiseerders laat weet, “Kom geniet ’n heerlike oggend in die Gamtoosvallei met ’n groot ontbyt en rond dit af met koffie of tee met die allerlekkerste koek of tert.”

Soos dit enige goeie basaar be-taam, sal daar ook boereworsrolle, basaarpoeding, pannekoek en slaptjips op die spyskaart wees.

Die koektafel gaan met keurige tuisgebak spog. En dan is daar ook tannie Joan se gewilde tuisgemaakte konfyt.

Vir diegene met groen vingers sal daar sal ook blomplantjies van die kwekery te koop wees.

Die basaar begin om 09:00.

COVID regulasies sal toegepas word. Enige navrae kan aan 079 063 4488 gerig word. Toegang is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article