Rioolputte waarvan een ’n gat in het, is digby Kings College, en die reuk van ’n sterk ontsmettingsmiddel hang daar in die lug, hoewel dit niks aan die stank nader aan Astonbaai doen nie. Beeste wei vryelik op die besoedelde gras. Foto:JANNIE HOUGH


INWONERS van Astonbaai, Jeffreysbaai se Aspoester-dorpsgebied, was die afgelope week of meer weer warm onder die kraag weens die onhoudbare rioolreuk wat hulle neuse begroet het die oomblik wat hul by Apiesdraai verbyry.

Daar is wyd gekla dat die situasie, wat elke nou en dan handuit ruk, ernstig aangespreek moet word.

Johannes van der Walt van Astonbaai en Johan de Klerk, vroeër ’n boer wat gedink het hy kom hier in ’n tuindorp aftree, is so gefrustreerd dat hulle ten einde raad Kouga Express genader het vir ’n onderhoud. Dit gaan vir hulle nie oor “kleinighede” en onnodige gekla, soos opportuniste en “positiewe denkers” na opbouende kritiek verwys nie, maar oor ’n wesenlike gesondheidsgevaar en onaangename leefomstandighede waaraan niks deur owerhede gedoen word nie.

Lede van die buurtwag het klaar vir Van der Walt gevra om nie die saak verder te voer nie, aangesien die rioolprobleem, volgens hulle, nou opgelos is. Maar die twee mans het plekke gaan uitwys waar rioolwater in waterpoele en skeure ingesypel het, waar daar steeds oorloop-riool spoel en waar beeste van die water drink. Rioolputte, waarvan een ’n gat in het, is digby Kings College, en die reuk van ’n sterk ontsmettingsmiddel hang daar in die lug, hoewel dit niks aan die stank nader aan Astonbaai doen nie. Beeste wei vryelik op die besoedelde gras. Die klaers glo nie daar is enige iets konkreet en permanent aan die rioolprobleem gedoen nie.

Die mans het dit veral oor die gesindheid en gebrek aan hulpverlening wat hulle by die munisipaliteit en wetstoepassers ervaar. Vd Walt het menigte oproepe na hulle en ’n skut by Loerie gemaak, veral oor die gesondheids- en lewensgevaar wat yslike troppe beeste langs die Jeffreys-Aston pad inhou, maar die meeste oproepe word nie beantwoord nie. De Klerk het aangebied om met sy bakkie van die kalwers weg te ry, en volgens hom het ’n wetstoepasser ’n treiler belowe, maar daarvan het dadels gekom.

Tydens ’n oproep aan ’n raadslid is hy gevra waarom hulle niks aan die situasie doen, nie en of die beeste dalk aan sommige raadslede behoort. Die amptenaar het die foon in sy oor doodgedruk. Hulle verwys ook na die stelling van ’n wetstoepasser dat hy bang is om teen ’n sekere skatryk oortreder in die dorp op te tree, omdat die man hom voor die hof kan sleep. Daar heers, volgens een van de klaers, ook vrees omdat van die diere-eienaars dreigend en gevaarlik is.

Die twee klaers is nie die enigste mense wat beswaard voel nie. Daar is mense wat deel is van die ‘swygsame meerderheid’ en maar met hul daaglikse bedrywighede voortgaan sonder om iets aan die situasie te probeer doen. Inwoners se gewone reaksie is dat dit nie help om te kla nie – niks word aan die probleme gedoen nie. Hulle trek hul skouers op en sê: “Die verval moet maar voortgaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article