ASTONBAAI-inwoners en -belastingbetalersvereniging (ABRRA) is op koers met hul proaktiewe samewerking met Kouga Munisipaliteit om die welsyn van die dorpsgebied te verseker.

Dié groep aktiewe inwoners se jongste vergadering het weer gewys dat die verfraaiing en gesonde infrastruktuur van Astonbaai hulle prioriteit is. Sekretaresse Pat Vosloo se verslag van die vergadering wat op 30 Augustus plaasgevind het, toon dat ABRRA met erns werk aan die volgende projekte:

  • Die Duinewegpad word in twee fases gebou en sal teen einde Junie 2020 voltooi wees.
  • Rioolpompstasie: ’n Terreinbesoek is saam met mnre. Jantjies en Kammies van die munisipaliteit uitgevoer. Die besluit om die stasie op te gradeer, is goedgekeur en by die begroting ingesluit. Tans wag ABRRA om te hoor wanneer konstruksie van die nuwe pompstasie ’n aanvang neem.
  • Opgradering van vervalle paaie. Daar is verskeie paaie in die omgewing wat dringend aandag benodig, en die groep beywer hulle vir fondse vir die herseëling daarvan.
  • Brandweervoertuig: Dit is lankal duidelik dat die dorpsgebied sy eie voertuig benodig om brande onder beheer te probeer bring voordat die brandweerwaens opdaag. Daar word tans kwotasies aangevra.
  • Spreiligte: By sekere dele is spreiligte essensieel, nl. Jacana Close, Cormorant Close, Oswald Park en die tennisbane in Sandpiperrylaan; asook die hoek van Flamingo- en Swanstrate waar sterk ligte nodig is vir sekuriteit by die Seekoei-natuurreservaat.
  • Stormwaterdreinering: Astonbaai het geen stormwaterpype vir dreinering nie en die situasie is totaal onhoudbaar.
  • Geleentheidskomitee: So ’n komitee moet op die been gebring en lede van die publiek betrek word wat met vars idees nuwe projekte kan aanpak. Ekstra fondse word voortdurend benodig om selfhelp-projekte te ondersteun.

Vergaderinggangers het ook antwoorde gesoek en gekry op knellende vrae. Hulle be- langrikste probleme is soos volg besweer:

  • Noodpad: Bosch-projekte is besig met die infrastruktuur vir die bou van ’n noodpad.
  • Astonbaai-gemeenskapsaal gaan nie dadelik gesloop word, soos verwag is nie. Instandhouding gaan gereeld gedoen word, en veral de ablusieblokke sal aandag kry met die oog op die komende vakansieseisoen.
  • “Wheelie-bins”: Die eerste 300 vullisdromme op wiele gaan uitgedeel word aan mense wat dit nie kan bekostig nie. Die res sal later versprei word en die koste by belasting gevoeg word.
  • Die munisipaliteit werk aan ’n noodplan vir die behandeling van veral cholera, indien dit sou uitbreek.
  • Die pompstasie in Dolphinweg gaan so gou as moontlik opgegradeer en omhein word.
  • Die navraesentrum het op 31 Augustus na die ou Sassa-gebou in Woltemadestraat verskuif.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article