SATERDAGMIDDAG het ’n groep jongmense opgeruk na die “Point” sakeperseel in Arcadia met een doel voor oë: om die geboue letterlik te verf as teken om veranderinge mee te bring in die gebied.

Lede van ’n jeug-groep verf geboue om veranderinge mee te bring in Arcadia, Humansdorp. Foto: Anthony Augustus

Geweldsmisdaad in die breë Arcadia gebied het die afgelope tyd hoogty gevier en talle jongmense het hul lewens verloor.

In een van die jongste voorvalle, is Wilfred Harris (26), verlede week blykbaar sonder ’n rede trompop geskiet skaars ’n paar meter van sy huis in Jeggels-straat, Arcadia.

Harris was, volgens familie–lede glad nie betrokke by enige bendebedrywighede nie.

Volgens die woordvoerder van dié inisiatief, Kouga Youth and Rural Development NPC, Joaban Saffier, was dit ’n stap in die regte rigting. Hy glo dat terwyl die polisie die voorvalle ondersoek, die gemeenskap ook hul deel by kan dra om verandering te probeer bewerkstellig, wat grootliks in die huise begin.

“Baie van die vrywilligers wat vandag hier hul hande vuil maak deur te help met die verfwerk, was en is dalk nog besig met dwelms maar weens die sosio–ekonomiese omstan-dighede wil hulle ook veranderinge hê in die eens rustige area.

“Ons het deur middel van ons weeklikse uitreikingsprogramme soos opelug- kerkdienste, tot die jeug deurgedring. Sommige ouers het ons na afloop van ons programme bedank en sterkte toegewens vir die toekoms.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article