O wye wêreld, hoe wonderlik is die Antjie se Pad-voetslaanroetes in die Kougaberge! Foto:MARISKA SPOORMAKER

Het jy al ooit voet gesit in Genesis 1 – ’n wêreld vol van asemrowende natuur en net ’n mens of twee? Mariska Spoormaker het hierdie soort wêreld gevind toe sy die Antjie se Pad-voetslaanroetes in die Kougaberge gaan verken het.

Antjie se Pad voetslaanroetes in Kougaberge bied ’n besonderse belewenis. Foto: MARISKA SPOORMAKER

Die wêreld is blou, dit is berge agtermekaar ingevou …

Só draai ’n mens se gedagtes daar waar jy op Blouberg in die Kouga-bergreeks staan.

Hoeveel mense weet hoe mooi is hierdie wêreld, hierdie bergreeks wat die suidelike front van die Baviaanskloof vorm?

“Dit is nou een ding van só ’n besonderse landskap,” sê Izzy Leask, sekretaresse van Voetsac, Nelson Mandelabaai se bekende voetslaanklub, “geen kamera kan afneem wat die oog sien nie … veral nie hier nie.”

Sy en haar man Wayne, voorsitter van Voetsac, het na dié besonderse stuk Oos-Kaapse aarde in die Kougaberge gekom om alle fasette van Antjie se Pad te inspekteer om terugvoering aan die Voetsac-lede, altyd gretig vir nuwe voetslaanroetes, te gee.

Izzy en Wayne Leask, onderskeidelik voorsitter en sekretaresse van Nelson Mandelabaai se Voetsac-voetslaanklub, hoog in die Kougaberge waar die Antjie se Pad-voetslaanroetes is. Foto: HEILIE COMBRINCK

Maar wie en wat is Antjie se Pad?

Herman Stoffberg, boukontrakteur van Oesterbaai wat die Antjie se Pad-staproetes ontwikkel het, kan nie uitgepraat raak nie oor Antjie, die vrou uit die vroeë 1930’s wat dié voetslaanroetes geïnspireer het.

“Hierdie paadjie agter teen Blouberg op word Antjie se Pad se pad genoem,” verduidelik Herman.

“Antjie Stuurman se voetslaanpad in die vroeë 1930’s het begin by Trekkloof, nog dieper en nog hoër op in die Kougaberge waar sy en haar man Booi, in hul veeposhuis gebly het. Van die veeposhuis af het sy die 10km na Witteklip se plaasopstal geloop deur die skaapvoetpaadjie oor berge en dale te volg. Wanneer sy klaar gewerk het, het sy dieselfde pad weer huis toe geloop.”

Antjie se storie het Herman teen die hart geslaan.

“’n Mens moet Antjie se Pad gaan beleef. Jy kan nie empatie met Antjie en haar pad werk toe hê as jy hom nie self gestap het nie om te weet hoe dit is om 20 kilometer in hierdie berge-wêreld te stap.”

Mariska Spoormaker het ’n wêreld vol van asemrowende natuur ontdek toe sy onlangs Antjie se Pad-voetslaanroetes in die Kougaberge gaan verken het. Vir meer foto’s en inligting oor die staproetes blaai na bl. 8. Hier word die natuurprag van een van die Antjie se Pad-voetslaanroetes aanskou. Foto: HEILIE COMBRINCK

Voetslaanroetes

Om ander mense Antjie se ervaring te laat beleef, het Herman, in oorleg met die grondeienaars, die twee Antjie se Pad-voetslaanroetes ontwikkel. Die een strek oor drie dae en is in totaal 37km lank en die ander strek oor vyf dae en is 56km lank.

Albei dié voetslaanroetes begin by die Witteklip plaasopstal waar Antjie gewerk het. Dit kronkel deur Dwarsfonteinkloof en volg dan die tweespoorpad teen Blouberg uit, verby Trekkloof waar Antjie en haar man gebly het, en gaan dan aan tot by Watervalkloof se oornaghut. Dié stap-afstand is 16 kilometer.

“Ons reël dit so dat die stappers in elke stapgroep voel hulle is die enigste mense in hierdie berge-wêreld,” verduidelik Herman, “want hierdie voetslaanroetes is vir my ook ’n verering van ’n mens wat elke dag as werkende persoon, haar 10km roete oor steil bulte al langs die skaapvoetpad gestap het. Dit is ’n stukkie nalatenskap vir die generasies na haar om dieselfde pragtige natuur te kan inneem.”

Ons wat saam met Herman die besonderse berge-landskap met sy ryk biodiversiteit per 4×4 voertuig verken het, het nog dae later gesukkel om weer by teerstrate, verkeersligte en kantoorgeboue aan te pas, want hierdie besoek aan die Genesis 1-wêreld brand in jou geheue vas.

Presies dìt het met Herman gebeur toe hy aanvanklik ’n Graad 1-klas vir die plaasskooltjie Boplaas-Primêr daar gaan bou het.

“Ek was bevoorreg om in daardie tyd ’n bietjie wyer oor die gebied te ry, en die natuur het só diep in my siel gekruip dat ek die grondeienaars gevra het of ’n mens maar nie dié besonderse landskap met ’n paar baie fikse stappers kan deel nie,” vertel Herman.

Die grondeienaars – Henco en Swart du Plessis – het goed daaroor gekoukus aangesien dit nog ’n werkende veeplaas is voordat hulle die groen lig vir Herman gegee het.

Antjie was ’n yster

“Henco het my vertel van Antjie en die lang pad wat sy gestap het na haar werk en toe weet ek: hierdie voetslaanroetes sal ter ere van haar ontwikkel word. Antjie moes ’n besonderse vrou gewees het – sy was fiks, sy was ’n yster.”

En soos jy klim en klim teen Antjie se pad uit, só maak die wêreld anderkant die hoë bulte al hoe meer oop – berge wat in verskillende skakerings van groen tot ligblou agter mekaar oopvou.

“Kyk,” sê Herman, “daar sien jy die Tsitsikammaberge, daar die Baviaanskloofberge en daar anderkant is Hanekamberg … kyk, dit lyk soos die gesig van ’n man met ’n lang neus en ’n dubbelken!”

Vir ’n mens met hoogtevrees lyk alles soos duiselingwekkende hoogtes vanuit die voertuig waarin jy sit.

Herman lag oor dié opmerking. “Wanneer jy dit stap soos Antjie, dan sal jy nie hoogtevrees kry nie – dis mos anders as wanneer jy in ’n kar sit en die krans is hier reg langs jou venster.”

Vir die voetslaner sal die enigste teken van ’n werkende plaas wees wanneer ’n paar bergklimmende merinos verbykom, verder sien jy net die natuur, want sover die oog kan sien, is daar geen mensgemaakte stuktuur nie.

Dit is net jy, jou voetval en die skepping.

Mariska Spoormaker het ’n wêreld vol van asemrowende natuur ontdek toe sy onlangs Antjie se Pad-voetslaanroetes in die Kougaberge gaan verken het. Vir meer foto’s en inligting oor die staproetes blaai na bl. 8. Hier aanskou Mariska Spoormaker die natuurprag van een van die Antjie se Pad-voetslaanroetes. Foto: HEILIE COMBRINCK

Net voor dit mag klink asof die skrywer self daar gestap het, moet dit onderstreep word dat sy Antjie se Pad-voetslaanroetes as passasier in ’n 4×4 voertuig beleef het. Dit opsigself was ’n groot voorreg, want daar word slegs voorsiening vir voetslaners gemaak en nié vir viertrekvoertuie of bergfietse nie.

Maar eendag is een dag, dan gaan Antjie se Pad voetval vir voetval gestap word.

Herman luister aandagtig na dié voorneme, vertel dan van Nookie, die 82-jarige Skotse vrou wat Antjie oor vyf dae aangepak het.

“Sy het na die tyd gesê Antjie is gewis nie vir beginners nie en toe bygevoeg Antjie se Pad is uphill, downhill, but never a flat part. But it is like walking through the garden of Eden.”

En dit is hoe die lewe is, voeg Herman by, “Jy het so af en toe ’n gelyk stukkie pad, en as jy bo is, dan sien jy die mooi uitsigte. As jy in die vallei is, het jy ’n stukkie mooi, maar jy moet êrens weer uit die vallei uit kom en jy moet jouself optel. As jy sien hier is nog ’n bultjie, dan moet jy jouself geestelik voorberei om weer bo te kom.

  • Vir meer inligting besoek www.antjiesepad.co.za. Jy kan ook ’n e-pos stuur na antjiesepad@gmail.com of Herman Stoffberg bel by 082 741 2733.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article