Leon Schuster se nuwe enkelsnit is “Die Boksmasjien”.

Foto: YouTube

“Ama Bokka ma bokko bokko dis die bokmasjien. The clean, mean, green- it’s the bok machine! Hey! Bokko ma bokko bokko, bring daai beker weer! Olé olé olé vir die vierde keer!”

Hierdie nuwe rugbyliedjie van Leon Schuster het my gegryp! As ek my kom kry, neurie ek dit. Die deuntjie draai in my kop en ek sing dit telkens met ’n bietjie meer energie.

’n Groot rugbykenner is ek beslis nie. Maar as onse Bokke speel, en veral as dit Wêreldbekertyd is, kan ’n mens mos nie anders as om belang te stel en mee te doen nie.

My rugby-hemp dra ek graag, en so ook die ‘snood’ in die kleure van die landsvlag. En ja, ek skrou ook my keel hees.

My eerste ontdekking van my vermoë om my selfbeheersing oorboord te laat gaan, was toe my kerriekopkind sy eerste onder-nege rugbywedstryd gespeel het.

Eers het ek skaam gekry, maar toe ek sien hoe die ánder ouers tekere gaan, het ek éérs losgetrek!

Toe besef ek hoe bevrydend dit is om saam met mense in die soortgelyke situasie uiting te gee aan gevoelens op ’n sosiaal aanvaarbare manier.

Wel, almal is nou nie ewe beskaafd op die pawiljoen nie. Die meerderheid toeskouers sal nooit so by die huis te kere gaan nie, maar in dié omstandighede is dit aanvaarbaar.

Kliniese sielkundige Maryke Vosloo sê: “Wanneer ondersteuners uiting gee aan hulle emosies op ’n aanvaarbare manier, steek dit ander mense aan om dieselfde te doen – veral as dit in ’n veilige omgewing is waar jy deel van ’n tribe voel en geoordeel word nie.”

Die destydse rofstoeipromotor, Oom Bull Hefer, het altyd gesê: langs die stoeikryt of die sportveld is die beste plek om uiting te gee aan frustrasies, en dat mens so ’n gesonde uitklep vind vir opgekropte emosies.

Ek onthou daar was ’n omie wat klokslag langs die kryt gesit het en elke hou meelewend dopgehou het terwyl hy sy valstande in-en- uit sy mond gewikkel het.

En nou met die opwindende Rugby Wêreldbeker, is my senuwees, net soos miljoene ander s’n, vertoiing.

Hoe kan mens die spanning uitstaan? Soms spring mens op met arms in die lug van vreugde, opwinding, of selfs ontevredenheid.

Dan hou mens weer oë gedeeltelik toe wanneer Pollard pale toe skop op ’n kritieke tyd. Party mense byt naels, slaan een na die ander bier weg, of loop knyp-knyp ’n draai.

Die grappies vlieg blitsig op sosiale media.

My gunsteling is die een van die hoeder- braai restaurant met ’n spesiale ontbytaanbieding (“English breakfast”) vir R16.15 (die eindtelling tussen die Springbokke en Engelse Rose.) Ook die kamma-foto van Rassie wat oornag grys geword het.

Daar is baie te sê oor die afgelope twee wedstryde se naelskraap oorwinnings.

Vir my is Siya Kolisi die grootste grensafbreker om mense van alle agtergronde en omstandighede te verenig. Hy en sy span laat ons vergeet van verskille. Ons het almal saam net een wens: dat ons Bokke daardie beker weer waardig omhoog sal hou as die wêreldkampioene.

Niks bou nasietrots soos sport nie.

Die Bokke sal nou maar moet waak daarteen om Afrikans op die veld te praat, want die teenstanders kan dit dalk net weer verkeerd verstaan… soos nou die geval was met die ‘wit kant’.

Ons hoop dat staatmaker Bongi Mbonambi in die eindstryd weer sy krag sal inspan teen die ‘swart kant’.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article