Daar is seker min mense wat nie een of ander gier, geit, gewoonte of vrees het wat ander irriteer of afstoot nie. Miskien is dit iets wat jy doen wanneer niemand kyk nie. Dikwels het die “afwyking” of “steurnis” of “toestand” ’n wetenskaplike naam wat dit darem ’n soort status gee, en jou laat voel daar is baie ander wat aan dieselfde siekte ly.
Ek hoor onlangs van iemand wat aan onychophagia ly. Met ’n bietjie navorsing dui dit toe op die gewoonte om naels te byt.
As student het ek ’n kamermaat gehad wat haar wimpers en hare uitgetrek het, wat my verstom het. Maar dis toe al die tyd ’n bekende verskynsel wat trichotillomania genoem word.
Daar is ’n paar fobies wat al algemene woorde geword het. Dis al gewone omgangstaal as iemand aan claustrophobia ly – dis nou wanneer iemand bang is vir klein of nou ruimtes soos grotte, die mediese tonnel-ondersoek of selfs hysbakke.
Die teenoorgestelde toestand, ’n vrees vir groot ruimtes, staan bekend as agorafobie.
Dié wat ’n doodse vrees het vir spinnekoppe, weet gewoonlik dit heet arachnofobia.
Nou sien ek daar is ook ’n wetenskaplike naam vir mense wat ’n heilige vrees vir spieëls het, en hulle ly aan eisoptrofie. Die algemene afskuwelike verskynsel van neuskrap en selfs die mukus dan eet, word rhinotillexis genoem.
En ekself, en baie van my vriende, ly aan ’n ernstige versteuring. Misophonia. Dis nou wanneer jy jou kop verloor en skerp reageer as iemand hard kou of irriterende herhalende geluide maak. Ek kan gek raak as iemand naby my iets soos ’n appel, aartappelskyfies, beskuit of springmielies kou. Of smaaklik ’n been afeet. Om nie eers te praat van die gewoonte wat party mense het om aanhoudend kougomborrels te blaas en dit met klapgeluide te laat bars nie. En as iemand voortdurend met ’n pen se drukknoppie speel, wil ek teen die mure uitklim.
Selfs geluide soos iemand wat tande borsel, of die effense klinkgeluid as iemand hulle naels kou, klink vir my soos donderweer.
Gelukkig leer mens vaardighede aan om daarmee saam te leef en dit meer sosiaal aanvaarbaar te hanteer. Ek sê net vir myself: Toemaar, dit gaan gou verby wees! As dit té erg is, staan ek maar op en loop ’n draai. Ek besef dis ek wat die sogenaamde steurnis het, en ek kan mos nou nie die wêreld daarby laat aanpas nie.
Daar is verskeie behandelings vir van die steurnisse, gewoontes en afwykings. Dikwels word anti-depressante voorgeskryf. Miskien moet ek ’n draai maak by vriend Ben Coetzee, ’n hipnoterapeut in Gqeberha. Hy sê hipnoterapie werk uitstekend vir enige ongewenste gewoontes, en ook bv. om op te hou rook of selfs gewig te verloor. Hy verseker my dat dit net suksesvol is as die persoon dit wíl doen, en geen hipnoterapeut kan iemand iets teen hulle sin laat doen nie. Met suggestie kan die onderbewussyn met betrekking tot die gewoonte of toestand geherprogrameer word. Jy gebruik dus eintlik die krag van jou brein om te bereik wat jy vir jouself gestel het.
Miskien sal ek dan met ’n glimlag die gekners in my ore kan verdra.




