HY kan bestuur. Hy kan in ’n japtrap parkeer. En van koppelaarbeheer, 360°-observasie en K53 kan hy jou alles vertel.

Jeffreysbaai bestuurinstrukteur Dirk van Deventer (72) is op sy gelukkigste agter die stuurwiel van sy wit Toyota – of, meer spesi- fiek, net neffens daarvan met ’n senuweeagtige leerlingbestuurder in die drywerstoel.

Van Deventer, die oudste bestuurinstrukteur in Kouga, indien nie in die Oos-Kaap nie, het al meer as 25 000 bestuurslesse op sy kerfstok en het oor die afgelope twee dekades nagenoeg 1 500 leerders gehelp om hul bestuur-lisensie te kry.

Meeste daarvan met die eerste probeerslag. Hy spog met ’n indrukwekkende 99%-slaagsyfer. Diegene wat nie ’n geldige rybewys met die eerste probeerslag gekry het nie, erken ruiterlik dat dit hul eie skuld was – óf die motor het agteruit gerol of hulle het een van die hindernisse in die parkeertoetsarea gestamp.

Sy geheim? Vir hom gaan dit nie oor die geld nie, maar oor die veiligheid van bestuurders en passasiers op die pad. Dié dat hy altyd net sy beste gee. Of dit nou agt of 20 lesse neem.

Een oproep te veel

Dirk, wat vir jare aan die verkeersdepartement in Port Elizabeth en Humansdorp verbonde was en op vroeë pensioen gegaan het, het 25 jaar terug sy uniform vir die van sy eie bestuurskool – Dirk Driving School – verruil.

Met ’n goeie hupstoot van sy vrou, Selina van Deventer.

Sy lag: “Na hy my 32 keer in een maand van die huisfoon gebel het, het ek besluit hier trek ek die streep. So kan dit nie aangaan nie.”

Sy het dadelik daad by woord gevoeg, en begin rondbel om uit te vind wat gedoen moet word om ’n bestuurskool op die been te bring.

“Voor hy sy oë kon uitvee, moes hy vir die verpligte leerlinglisensie- en bestuurstoets gaan om ’n bestuurskool oop te maak.”

Vandag is hy bly sy vrou was so voor op die wa.

Vol selfvertroue

Dirk, wat glad nie vir groentjie-bestuurders skrik nie en senuwees van staal het, is ’n bestuurinstrukteur was sorg dat al sy leerders vol selfvertroue by ’n toetssentrum instap.

“Ek raak altyd so trots as my leerders met ’n breë glimlag daar uitstap met ’n wettige lisensie in die hand.”

Hy beduie met sy hande in die lug: “Ek laat al my leerders eers sekere tegnieke onder die knie kry voor ek hulle pad toe vat: stop, wegtrek, ratte-wisseling, observasies en hoe om in die verkeer in te beweeg.

“Niks word half gedoen nie. Eers wanneer ek heeltemal tevrede is, sal daar na die volgende stap aanbeweeg word.

“Ek is streng met hulle, maar nie onredelik nie.”

Hoeveel lesse neem dit voor jy ’n ‘deskundige’ agter die stuurwiel is? “Mense wat nog nooit voorheen bestuur het nie, het tot twintig lesse nodig. Diegene wat kan bestuur, benodig agt tot tien lesse.

“Party mense leer vinniger as ander.”

Baie koek en ‘tannies’

Sy leerders wissel van jonk tot oud – met die oudste leerder ’n 66 jarige vrou wat nog nooit bestuur het nie.

“Haar man wou nie hê dat sy agter die stuurwiel inskuif nie, maar met sy afsterwe het sy die motor geërf,” sê hy.

En Dirk was die ideale persoon om haar te leer bestuur.

Sy is net een van vele ouer dames wat by hom vir bestuurslesse kom aanklop het – sommige wat nooit bestuur het nie, en ander wat vergeet het hoe om te bestuur.

Elke nuwe ouer kliënt het ’n heerlike tuisgebakte koek beteken.

Dirk glimlag ondeund: “Aan die begin het ons so baie koeke gekry, dat dit ’n wonderwerk is dat ons nie vreeslik vet geword het nie.

Hy het verder twee vroue met disleksie gehelp om hul rybewys te bekom. Iets wat hulle onmoontlik geag het.

“Met die regte leiding, kan enige persoon ’n geldige rybewys bekom. Inligting moet so oorgedra word dat die leerder dit kan verstaan en suksesvol toepas.”

Dan is daar ook die broers, susters, neefs, niggies, kinders en kleinkinders van vorige leerders wat na hom vir lesse kom. En as hulle moet wag, wag hulle. Want daar is geen ander instrukteur waarheen hulle wil gaan nie.

As ’n bonus, leer hy sy leerders die wette van die pad – hy is trouens ’n kenner op die gebied.

Hy bied ook leerlinglisensie-klasse aan.

Die soet en suur

Dirk, wat nog nooit ’n ongeluk met een van sy leerders agter die stuur gehad het nie, sê dit is vir hom die lekkerste om mense te leer wat glad nie kan bestuur nie – om te sien hoe hulle les-vir-les vorder tot waar hulle hul lisensie kry.

Die slegste? Ongeduldige motoriste wat aanhoudend op hul toeters lê al is daar ’n groot leerlingbestuurder-plakker agter op die motor. “Gelukkig is hulle in die minderheid.”

En die moeilikste? Diegene wat dink hulle het net ’n les of twee nodig.

“Dit is nie net vir inklim en bestuur nie. Daar is die K53, die 360°-observasie, die aansitmetode en die buite- en binne-inspeksie.

“Slegs die aansitmetode bestaan uit nege stappe: trap die rem in, laat sak die handrem, trek die handrem op, sit die voertuig in neutraal en draai die sleutel – maar die enjin mag nie aangaan nie. Volgende maak seker al die waarskuwingsligte en ander liggies werk, verseker die outomatiese smoorklep is af en sit jou veiligheidsgordel aan.

“Dan eers kan die voertuig aangeskakel word.”

Sy raad aan voornemeende leerders? “Dit neem tyd om aan alles gewoond te raak, wees geduldig. Let op en vra vrae as daar iets is wat jy nie verstaan nie.”

Toekoms

Dirk, wat elke oggend voor sy eerste bestuursles in die tuin werk, dink nog glad nie daaraan om sy motorsleutels op te hang nie.

As dit van sy vrou af hang, gaan dit beslis nie binnekort gebeur nie. Daarvoor is hy hopeloos te besig, volgens haar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article