gewigoptel
Theoline Ruiters (voor) maak gereed om die gewig uit te stoot. Links agter is Jason Hallem en Lumar Karolse. Credit: Verskaf

gewigoptel
Theoline Ruiters (voor) maak gereed om die gewig uit te stoot. Links agter is Jason Hallem en Lumar Karolse.
Credit: Verskaf Credit: Verskaf

Die merkwaardige opgang in gewigoptel van ‘n 14-jarige leerling aan die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai het kenners in vervoering.

Om binne agt maande as ‘n beginner vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap te kwalifiseer, dui op ‘n blink toekoms vir Theoline Ruiters.

Toe verlede jaar se SA kampioenskappe gehou is, het Theoline nog nie eers daaraan gedink om ‘n gewigopteller te word nie.

Maar sedert sy die eerste keer by die gimnasium ingestap het, het sy die oë laat rek deur vir die nasionale kampioenskap te kwalifiseer in die o.17-jeug- en o.20 junior-afdeling.

Teen ‘n liggaamsgewig van 42,36kg het sy ‘n totaal van 79kg, terwyl die kwalifiserende standaard vir die jeugkategorie 65kg en vir die SA Junior 79kg is.

Ruiters is ook die eerste meisiedeelnemer sedert Luane Viljoen wat in 2019 die laaste een was wat vir die SA kampioenskap kon kwalifiseer.

Haar afrigter, Pieter Pretorius, sê Ruiters het natuurlike talent.

“Dit is bitter min dat ‘n deelnemer sommer so met die intrapslag presteer.

“Daar is by my geen twyfel dat sy ‘n blink toekoms het nie. “As sy binne agt maande só maklik die kwalifiserende standaard kon haal, dink net wat sy vandag oor ‘n jaar of twee kan doen,” sê hy.

2019 was ook die laaste jaar dat die OP ‘n seun gehad het wat vir die verlangde standaard gekwalifiseer het.

Vanjaar het die OP sommer twee kwalifiseerders in Lumar Karolse en Jason Hallem. Albei is 12 jaar oud.

Karolse het in die o.49kg-afdeling met 95kg geslaag – een kilogram meer as die kwalifiserende standaard. Hallem het met 97kg geslaag met die kwalifiserende standaard 94kg.

Die afrigter Pieter Pretorius se sukses met die jonges is verstommend. Sy sukses oor baie jare spreek vanself toe hy sy dogter Mona tot wêreldklasatleet gebrei het. Hy het ook van Suid-Afrika se beste juniors afgerig waarvan sommiges ook van wêreldgehalte was.

Met Suid-Afrika se beste afrigter om die jonges touwys te maak, is dit geen verrassing dat Pellsrus nou amptelik een van die sterkste gewigoptelklubs in die Oos-Kaap is nie.

Dit is ook die eerste keer in die geskiedenis van die sport in Suid-Afrika dat ‘n skool dié uitsonderlike kompliment kry.

Regdeur Suid-Afrika vorm senior klubs die ruggraat van hul provinsie.

Dis duidelik dat die OP ‘n groot tekort aan senior deelnemers het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article