Die Fundraiser for Nadine Louett-groep bied op 23 Junie ’n potjiekoskompetisie by die Milkwood Market langs Fountains Mall aan om fondse in te samel vir ’n nuwe prostese vir Nadine Louett.

Sy het drie jaar gelede as jongmeisie haar been in ’n ernstige ongeluk verloor.

Die storie het wye dekking in koerante en op sosiale media ontvang, en die publiek van Jeffreysbaai en omgewing is bewus van die trauma waardeur sy en haar man sedertdien moes werk. Die saak het intussen voor die hof gedien, en volgens Nadine is die motorbestuurder wat die ongeluk veroorsaak het, skuldig bevind. Die jonggetroudes, wat elkeen ’n been in die onge-luk verloor het, moes egter intussen die mas probeer opkom. Verskeie pogings is al aangewend om hulle by te staan, en die potjiekoskompetisie is veral daarop gemik om so-veel as moontlik fondse te bekom om die R90 000 te dek wat so ’n prostese sal kos.

Joane van der Merwe wat die administrasie behartig, doen ’n dringende en vriendelike be-roep om besighede in Jeffreysbaai en omgewing om by die inisiatief betrokke te raak. Spanne kan van 10:00 af hul staanplek begin voorberei, die kookproses begin om 11:00, en beoordeling vind om 13:00 plaas. Pryse sal in die volgende kategorieë toegeken word: Tema (oorspronklikheid en atmosfeer), Voorkoms van dis tydens opdiening; Oorspronklikheid en smaak van dis, Oorspronklikheid en smaak van bykosse.

Besighede kan kies watter advertensie hulle by hul staanplek wil plaas, en die organiseerders is ook bereid om ’n besigheidskaartjie-grootte advertensie op hul FB-blad te plaas. Die FB-naam is Fundraiser for courageous amputee Nadine Louett.

’n Bykomende aantrekkingskrag van die kompetisie is die beoordelaar, bekende akteur en potjiekoskenner, Ben Kruger. Hy vlieg spesiaal af om luister aan die kompetisie te verleen. Saam met Ben is Tom Swartz (tans op Survivor SA te sien).

Behalwe dat daar met vertroue gevra word dat inskrywings sal instroom, word lede van die publiek uitgenooi om nie die geleentheid mis te loop nie. Hoe groter almal se samewerking, hoe beter is die kanse om ’n sukses van die insameling te maak. Inskrywingsgeld en alle ander goedgunstige bydraes kan inbetaal word by FNB, Takkode 250655, Nadine Amputee Fundraiser, Rekeningnommer 74759769978, Verwysing: Naam van span.

Die Potjiekoskompetisie-inskrywingsvorm kan by Flower Boutique tussen Spar en Ninas afgehaal en ingehandig word, of elektronies voltooi en per epos gestuur word aan
joanecoetzer@yahoo.com.Die sluitingsdatum
vir inskrywings is 15 Junie 2018.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article