KOFFIE praat ’n universele taal.
Of dit Starbucks in Londen of ’n bekertjie sterk swartetjie rondom ’n Bosveldse braaivleisvuur is – dit is lekker, want daar is geen beter woord daarvoor nie. En by al sy groot verskeidenheid het Jeffreysbaai ook dié een ding in gemeen – ’n rits koffie-ervarings wat meeding om die grootste smulpaap te bevredig.
J-Bay Coffee Bar is ’n jong opkomende kuierplek met ’n ander benadering – om saam met ’n wye verskeidenheid koffies ook beskuit en koek van ’n besondere bakhuis-gesin in die Noord-Kaap aan Jeffreysbaaiers bekend te stel – en dit teen ewe genoeglike pryse.
Analeen Joubert wou sedert haar aankoms in die dorp verlede jaar ’n koffiekroeg met ’n verskil vestig – ’n gesellige kuier-atmosfeer plus die beste kwaliteit koffie en eetgoed teen pryse wat die publiek weer en weer sal laat terugkeer. Want die beskuit en koek moes wees volgens die geheime resepte wat Ouma van desjare nie maklik met ander gedeel het nie. En om die genot verder as die kroeg te laat voortduur, word ’n reeks koffies wat almal sal behaag, ook in verpakking aangebied.
Die eetgoed word vars in ’n reeks dorpe afgelewer deur Alwyn Smit en gesin wat gelisensieerde bakkers is. In hulle bakkery op die plaas word met resepte getoor tot hulle die heel beste anys-, karringmelk en gesondheidsbeskuit uit die oond haal.
By hierdie gemoedelike gesin-eetplek voeg Analeen se vriendin, Louise Saayman, ’n persoonlike diens – om genoeg van die smullekker be-skuit en koekies in die dorp te bemark, sodat sy in haar hoedanigheid as gemeenskapsleier uit die wins ge-skenkpakkies kan opmaak vir veral weduwees en ander wat belangstelling en ’n geskenkie kan waardeer. Hawermout-, vla-, koffie- en gemmerkoekies met ’n verskil is op dié spyskaart.
Louise, wat ’n lewendige lid is van die Belastingbetalersvereniging (ondervoorsitter), die Munisipale IDP en die Kouga-forum, voel dat sy ook op dié wyse die publiek betrokke kan maak by mense wat dikwels in die samelewing vergeet word.
Jeffreysbaai, as die Dorp van die Jaar, kan doen met sulke entrepreneurs wat glo aan beroemde gesegdes soos “Goeie Koffie – goedkoper as ’n anti-depressant” of “Pro-kaffeïen (naamwoord) – die uitstekende gewoonte om niks te begin voor jy ’n goeie koffie geniet het nie.”
Wanneer jy dus weer dink: “Almal glo iets. Ek glo ek het ’n koffie nodig,” – gaan kuier by Analeen se koffie-kroeg. Pasop net – dis verslawend!





