KOUGA se nuwe uitvoerende burgemeester, Horatio Hendricks, is ‘n welbekende gemeenskapsleier met dekades se ondervinding in die staatsdiens.
Hy het vir 22 jaar onderwys gegee by Andrieskraal Primêr en was vir sy laaste 12 jaar by die skool ook die skoolhoof.
Voor die munisipale verkiesing van 2016, was hy ‘n raadslid by die Sarah Baartman Distriksmunisipaliteit. Hier het hy, onder meer, as die voorsitter van die Munisipale Openbare Rekeninge-komitee gedien.
Die komitee speel ‘n belangrike oorsig rol oor die werking van ‘n munisipaliteit ten einde te verseker dat hulpbronne effektief en volgens wetlike voorskrifte gebruik word. Dit was in hierdie tyd dat die Distriksmunisipaliteit skoon ouditverslae behaal het.
Naas onderwys, het Hendricks kwalifikasies in Munisipale Bestuur en Wetgewing, Munisipale Finansies en Praktiese Arbeidswetsgewing.
Hy was as wykraadslid verkies in 2016, waarna hy ook as Speaker van die nuwe raad aangestel is.
Hy en sy vrou, Amor, bly in Humansdorp en het drie kinders.


