: < Die dinamiese trio - Tersia Strydom, Franz Geldenhuys en Menno Mostert - het in Augustus 2014 Potter’s Place in Jeffreysbbaai op horings geneem met hul unieke produksie ‘Afrikaans op sy Beste’.


VANDAG, amper ’n kwarteeu sedert hy die eerste keer voor ’n gehoor opgetree het, is Menno Mostert (42) van Jeffreysbaai een van dié name in die plaaslike musiekbedryf wat gehore van honderde bekoor.

Min mense sal dalk kan glo dié selfversekerde sanger en toneelspeler twyfel ook soms of raak angstig, maar dit gebeur wel. Veral wanneer hy nie op die verhoog is nie.

Hy bieg: “Ná al die jare is dit vir my baie èrger en steeds veel meer intimiderend om met mense te praat as om voor duisende mense op ’n verhoog te stap. Die verhoog is waar ek tuis is.”

’n Introvert in ’n ekstrovert se beroep – dit is Menno.

Ná 24 jaar in die musiekbedryf is hy steeds net ’n kleindorpie-seun vir wie die kollig nog nooit regtig saak gemaak het nie – solank hy net kan sing en gehore vermaak.

Die begin

Menno, kosmetiese bestuurder by DisChem in Fountains Mall, het nie altyd van ’n lewe op die verhoog gedroom nie.

Was dit nie vir Ora Schroeder, aflos-onderwyser by die Laerskool Stulting in Humansdorp, wat sy talent raakgesien en hom aangemoedig het om in graad 7 aan Eistedfodd deel te neem nie, het hy dalk nooit ’n voet op die verhoog gesit nie.

Dit is hier waar die vermaakgogga hom gebyt het.

Die skoolkoor, redenaars, verhoogwerk en operette het gevolg, maar dit sou eers jare la-ter wees dat hy sy eerste volwaardige optrede voor ’n gehoor lewer.

Eerste optrede

Hy onthou sy eerste optrede in 1994 saam met die voormalige A Lakanto-groep (Antoinette Terblanche, Susan Olivier en Karien du Plessis) nog goed – pas uit die skool en ’n nat 18 jaar oud.

Eers het hy net verhoogwerk gedoen. Maar hy wou ook sing. Ure saam met Antoinette voor haar klavier en sanglesse het gevolg.

Toe breek die groot dag aan: sy eerste rol waarin hy kon dans, sing en toneelspel.

“Dit was ongelooflik, en van daar af was dit al wat ek wou doen. Nie net kom dit vir my natuurlik nie, maar dit is my passie.

“Dit was een van die wonderlikste tydperke in my lewe.”

Op 25 het Menno sy eerste Passiespele met 51 spelers op die planke gebring. “As ek vandag terugkyk, weet ek nie hoe ek dit gedoen het nie,” lag Menno wat die fyner kunsies van toneelspel by Eubré Ferreira geleer het.

’n Huldeblyk aan Gé Korsten, Kersproduksies, soos Hierdie Kind en Toeka se Kerstyd, en ’n Blinde Dinee vir Retina Suid-Afrika het gevolg.

Ander hoogtepunte sluit in sy optrede by die Port Elizabeth Operahuis: die bekroonde Afrikaanse musiekblyspele Rut en ’n Boer maak ’n Plan deur Danie Matthee, asook Kinkels in die Kabels, Die Keiser en die Italiaanse Strooihoed.

Menno is jaarliks die seremoniemeester by die plaaslike Cansa Candles for Candlelight en Relay for Life, en sing gereeld by die pensionaris-tee by Foutains Mall.

En volgende op sy vermaaklys? “Ek tree op 30 Junie vanaf 10:30 tot 11:00 tydens die jaarlikse Spar Kirkwood Wildsfees by die ATKV-tak Kirkwood en Die Burger se ‘Koek op die Stoep’ op.

“Ek sien baie daarna uit, maar is ook effens op my senuwees – dit is ’n goeie ding. Die dag wat ek nie senuweeagtig is nie, sal ek bekommerd raak.”

Op 26 Julie bied hy, in samewerking met die ATKV-tak Brandervolts (waarvan hy die voorstiiter is), Terra Nostra (Ons Land) by The Bay Pasta Co om 20:00 aan.

Gehoor

Menno, wat vir ouer gehore sing en daarvan hou om voorbereid te wees, sê: “Ek is geen Boyzone of Theuns Jordaan nie. Gee vir my Gé Korsten, Bles Bridges en Engelbert Humperdinck – iets met ’n dieper betekenis.

“As één persoon van die gehoor na ’n vertoning na my kom en sê Wow, dan het ek my doel bereik.”

Toekoms

Menno, wat glad nie kan nootlees nie en op gehoor sing, wil voor sy aftrede leer klavier speel. “Die eerste stap is seker om ’n klavier te koop,” sê hy laggend.

“Dink net, ek kan sit en klavier speel op die stoep van die ouetehuis.”

Hy meen: enige iemand kan enigiets bereik, jy moet net bereid wees om hard daarvoor te werk en nooit ophou in jou eie talente glo nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article