Na omtrent tagtig uur dat water uit ’n beska-digde pyp onder Pelikaansingel in Astonbaai uitgeborrel het, het die Kouga-munisipaliteit die pyp Saterdag herstel. Foto:JANNIE HOUGH


NA omtrent tagtig uur dat water uit ’n beskadigde pyp onder Pelikaansingel in Astonbaai uitgeborrel het, het die Kouga-munisipaliteit die pyp Saterdag herstel.

Senior Adjudant-offisier M McLaren, lugmag-veteraan wat onlangs hier kom aftree het, kon nie glo wat hy voor sy huis sien nie. As iemand wat militêre dissipline hoog aanslaan, vind hy dit ondenkbaar dat daar nie minstens ’n poging aangewend was om die lekkasie dadelik te stop nie. Dit het hom vyf oproepe na die munisipaliteit gekos voordat ’n amptenaar laat blyk het iemand sal na die toneel gestuur word.

’n Buurman het drie keer geskakel, en láát Donderdagmiddag het ’n munisipale werker kom sê hul meganiese tru-grawer is nie be-skikbaar nie. Vroeër is laat blyk dat die masjien in St. Francisbaai is. Volgens een amptenaar is die pype te diep onder die grond om met ’n pikgraaf bereik te word. Dié onbereikbare diepte kon wel bepaal word toe die werkers opdaag.

Motors (onder meer ’n munisipale bakkie) het heen-en-weer oor die lekplek gery, en die teerpad het begin verkrummel.

Die betrokke gedeelte van die pad was nie afgesper nie, huise aan die een kant van die lekkasie het met ’n dam water voor hul erwe gesit, en onder een grasperk waar die huis se watermeter is, het die grond begin sak.

Skynbaar in ’n poging om waterdruk by die stukkende pyp te verlaag, is die brandkraan verder op in die pad vol oopgedraai sonder dat die brandslang gekonnekteer is. Die massa water het oor die pad gespuit en ’n inwoner se hele erf oorspoel.

Iemand in die straat het sinies teenoor ’n werker genoem dat daar darem een ligpunt is: daar is gelukkig geen rede vir bekommernis oor water wat verlore gaan nie, omdat die damme skynbaar vol is en daar geen sprake van watertekort is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article