Kia het sy Sportage opgeknap met ’n vars voorkoms, meer tegnotruuks wat die bestuurder se lewe vergemaklik, asook ’n nuwe dieselenjin vir die topmodelle. Foto’s:VERSKAF


’n OPGEKNAPTE model van die gewilde Kia Sportage is einde verlede maand in Europa gewys en behoort straks voor die einde van die jaar in Suid-Afrika aan te kom.

Die voorkoms is voorspelbaar heelwat opgeknap, terwyl die binneruim ook moderner gemaak is met meer tegnotoerusting wat by die pakket gevoeg is. ’n Nuwe dieselenjin vervang ook die huidige 1.7-liter-diesel in die reeks.

Kia haute couteure

Met die opknapping vind ons nuwe aksente wat van die ou stileringskenmerke versag. So is die GT Line (die topmodel) se sierrooster nou heeltemal swart geverf, nes die hulsels by die misligte, die onderste rooster en die buffer. Die binnekant van die hoofligte se hulsels is ook donker getint.

Die GT Line kry ook ’n silwer skermplaat onder die neus en by die stert, terwyl ’n don-kersilwer paneel onder by die deure gevoeg is vir ekstra dramatiese effek.

Binne sal jy ’n nuwe stuurwiel vind, terwyl die instrumentpaneel ook ’n vars voorkoms het. ’n Groot raakskerm bo, wat glad by die res van die paneel aansluit, vorm die fokus-punt van die instrumentpaneel.

Gewone modelle kry nuwe swart en grys bekleedsel, terwyl die GT Line leerbekleedsel het.

Onder die vel

Hulpstelsels vir die bestuurder sluit in ’n selfafskakel-funksie as jy stilhou, ’n kamerabeeld wat die area rondom die voertuig op jou monitor wys, ’n gonser wat waarsku wanneer jy agter die stuur begin indut, en natuurlik die groot raakskerm wat jou satnav-stelsel en tru-kamera huisves.

Opwindende nuus natuurlik is die koms van ’n nuwe 1.6-liter-turbodiesel wat die hui-dige 1.7-liter gaan vervang. Kia sê die nuwe enjin sal in twee kragweergawes te kry wees, 85 kW en 100 kW. Die frisste model sal saam met ’n sewegang-outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) en 4×4-vastrap gekombineer word.

Toekomsplanne

Intussen het Kia ook groot toekomsplanne bekend gemaak. Dit behels onder meer 16 nuwe voertuie teen 2025 wat met alternatiewe kragbronne aangedryf sal word.

Dit sluit in vyf hibridiese voertuie, vyf inprop-hibriede, vyf elektriese voertuie en ’n brandstofselmotor teen 2020.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article