VOLKSWAGEN se mediumgroot sportnuts, die Tiguan, het die afgelope jaar of wat eintlik ’n heel nuttige nis vir hom uitgegrawe as ’n spoggerige gesinsryding. Soveel so dat die groep nou ’n ekstra model by die reeks bygevoeg het: ’n langer sewesitplekker.
’n Mens is half skepties oor wat VW se sukses met hierdie Tiguan Allspace gaan wees. Maar klaarblyklik wil kopers rêrig graag meer ruimte in ’n sportnuts hê.
Hoewel die gewone vyfsitplekker en die langer sewesitplekker grootliks identies is, het VW tog met ’n paar netjiese aksent-veranderings die twee modelle goed van mekaar onderskei.
Die Allspace het byvoorbeeld ’n platter rooster, ’n hoër enjinkap en ekstra plate onder die neus wat als help om hom ’n gedifferensieerde voorkoms te gee.
In syfers is die sewesitplek-Tiguan 21 cm langer van neus tot stert as sy vyfsitplek-stalmaat. Dit is grootliks agter die agteras aangebring, waar ’n derde ry sitplekke ingepas is. Die sitplekke is egter klein en plat, sodat dit netjies op die vloer kan wegvou vir ’n normale, oop laairuim.
Nog ’n differensiasie is te sien in die modelreeks. Die gewone 1.4-liter- en 2-liter-petrolturbo is te kry, saam met die 2-liter-turbodiesel. Maar die tweeliterpetrol kan jy nou ook as ’n intreevlakmodel (Comfortline) kry, met die turbo makker gemaak om pleks van 162 kW slegs 132 kW te lewer.
Netjies afgewerk binne
Binnelangs kry jy die gewone Tiguan se mooi afwerkings en moderne instrumentpaneel, waar ’n groot raakskerm in die topmodelle (kompleet met handbeweging-funksionaliteit) en digitale spoed- en toerenaald die botoon voer.
In ons Highline-afwerkingspakket was die Allspace boonop toegerus met ’n elektroniese handrem, outomatiese hoofligte, ’n elektriese luikdeur, ’n vashoufunksie as jy teen ’n bult wegtrek, ’n selfrem-funksie as jy teen ’n afdraande wil afkruip, en ’n selfstop-funksie aktief in stadsverkeer.
Dinge raak egter nog deftiger, sou jy die hand ’n tweede keer in die beursie wou steek. Die High-line R-line-pakket bied jou meer luukses standaard ingesluit, en ’n opsionele veldrypakket bied jou aangepaste buffers wat jou nader- en vertrekhoek verbeter, en be-skerming onder die pens.
Die permanente 4×4-vastrapstelsel het ook ’n veldrykeuse by jou ritmodusse wat die ratkas en versnellerpedaal aanpas sodat jy gemakliker oor rowwe terrein kan klouter, sou jy wil.
’n Praktiese kêrel, dié
Soos jy sou kon aflei, is ’n deel van die Tiguan se gewildheid in sy mooi, moderne afwerking geleë. Dis werklik ’n gevoel van bederwing wat jy ervaar as jy inklim.
Jy sit lekker hoog en pakplek vir los items tussen die voorste sitplekke en onder die radio is talryk en boonop prakties.
Die aansitknop is ook goed geplaas, nie so direk agter die stuur dat ’n mens dit nie kan sien nie, maar meer na links op die paneel.
Op ’n keer toe ek strek om iets met die linkerhand op die sitplek langsaan op te tel, verander die radio skielik vanself. Dit blyk toe die veebeweging-funksie van die raakskerm te wees wat geaktiveer is. Dus, die stelsel is sensitief. Dié moderne foefie mag nuttig en dalk onmisbaar vir jong millenniërs wees, maar om so per ongeluk iets te verander in die ry, is ook lastig.
In die middelste ry kan drie tieners hulself gemaklik maak. Die heel agterste twee sitplekke is straks meer vir laerskoolkinders bedoel. Ek sou die nut sien bloot as ’n op-en-aflaai-funksie vir skoolbyeenkomste, of ’n vinnige kuier iewers. Nie die lang tog in Desember na die strandhuis nie.
Boonop, jou pakplek word werklik minder as jy die agterste rugleunings regop het: grootliks ’n los sak of drie wat jy kan inpas.
As die oop pad roep
Die groot Tiguan ry gemaklik in die dorp, maar die ekstra gewig het ’n invloed op sy verbruik. Ek het in die koers van 8 tot 9 liter geboer, waar sy mededingers met min moeite ’n beter syfer sou kon kry.
Die frisste tweeliter is ’n lekker keuse, vanweë sy maklike verbysteek-vermoë. Die 132 kW-weergawe gaan flou in die bene wees as jy volgelaai en met ’n Venter gehaak kus toe wil ry. Anders kies jy die turbodiesel, wat werklik ’n wenkombinasie sal vorm tussen lae verbruik en flukse verrigting.
Prys: VW Tiguan Allspace 2.0 TSI Highline – R604 800.




