IS dit ’n hersenskim, ’n vreemde vlieënde voorwerp, ’n vroeë 1 April-grap?

Driekeer verkeerd geraai.

Dit is ’n bakkie met ’n munisipale logo op wat nie minder nie as tien passasiers agterop vervoer sonder dat daar enige tralies of ander beveiliging om die agterste bakwerk is. Dan is daar nog passasiers in die kajuit ook.

’n Sakeman van Jeffreysbaai, Hennie Visser, het die afgelope Maandag ’n foto van dié ongeluk-wat-wag-om-te-gebeur geneem net nadat die bakkie met sy allemintige vrag om die sirkel by Equinox-inkopiesentrum beweeg het. Vir sy moeite het een van die agterryers sy duim gelig.

Dit wil voorkom asof die werkers êrens in die Dorp van Drome besig was om skoon te maak of iets te herstel. Skynbaar is daar ook ’n vrou tussen die mans. Dit lyk na ’n gewigtige sending, want die bakkie met die nommerplaat CXP 548 EC se agterstewe het ge-vaarlik na die teerpad afgehang.

Visser vertel dat hy ongeveer twee jaar gelede deur ’n verkeersman van die pad getrek is toe hy iemand te hulp gekom het deur ’n kas agterop ’n bakkie te vervoer. Twee mans het die kas vasgehou, en die bestuurder is met R1 000 beboet omdat die bakkie nie tralies agterop gehad het nie.

Hy reken as dieselfde wet nog geld, die munisipaliteit of bestuurder ná Maandag se gebeure dalk nie minder nie as R5 000 boete sou moes betaal as daar ’n verkeersman op die toneel was.

Dié foto is aan die burgemeester gestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article