‘n Afvaardiging van die Kanadese munisipaliteit, Prins Edward County (PEC), het onlangs twee weke in Kouga spandeer ten einde die twee munisipaliteite se ontwikkelingsooreenkoms vorentoe te neem.

Die munisipaliteite is vennote in die Bou Inklusiewe Groen Munisipaliteite (BIGM) program, ‘n inisiatief van die Federasie van Kanadese Munisipaliteite (FCM) en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga). Dit word befonds deur die Kanadese regering.

‘n Memorandum van Verstandhouding is in Maart deur die munisipaliteite onderteken, waarin hulle hulle bind om saam te werk en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te bevorder.

Kouga-burgemeester Horatio Hendricks het gesê dat die besoek daarop gemik was om, onder meer, die kapasiteit van munisipale personeel en belanghebbendes op te bou sodat inklusiewe ekonomiese ontwikkelingstrategieë saamgestel en geïmplimenteer kan word , met die klem op kwesbare groepe.

“Die program was daarop gemik om die munisipaiteit te bemagtig om entrepreneurs beter te kan ondersteun.

“Ons is baie bevoorreg om van internasionale beste praktyke te kan leer, binne die konteks van ons eie omstandighede.”

‘n Driedag-werkswinkel vir belanghebbendes is ook deur PEC by Mentorskraal aangebied.

Volgens deelnemers, was dit wat hulle daar geleer het van groot waarde. Dit het ook die verhouding tussen die plaaslike munisipaliteit en rolspelers versterk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article