DIE gewilde Milkwood-mark in Jeffreysbaai vier Saterdag sy eerste verjaardag met groot jolyt.
Dié familiemark, die breinkind van Anri Wolmarans en Hannelie van Jaarsveld, wat verlede jaar by ’n braaivleisvuur ontstaan het, het so momentum gekry dat ’n paar besielde entrepreneurs spoedig na ’n geskikte markruimte begin soek het.
’n Jaar later kan markgangers die produkte van nagenoeg 60 uitstallers koop.
Verjaardagvieringe sluit in ’n spesiale vertoning deur die plaaslike polisie se honde-eenheid om 10:00, insluitende aanvalswerk, asook ’n dril, rook- en simulasie-vertoning.
Daar is verder ’n uitstalling van hondetoerusting en wapens.
Plaaslike kunstenaars, onder andere Wondering Watsons, tree ook op.
Verken die mark dié Saterdag saam met vriende en familie, geniet die vermaak en alles wat die verskaffers bied, en sluit die dag af met topgehalte koffie en heerlike lekkernye.
Of geniet ’n piekniek by die dam.
Neem gerus die kinders saam. Daar is ’n veilige speelarea met toesig en hope pret vir die kleinspan: trapkarre, springkasteel, perde, verfbal en “bungy bouncer”.
Die Milkwood-mark, geleë langs Fountains Mall op die grondpad na die Global Leadership Academy, vind elke Saterdag vanaf 08:00 tot 13:00 plaas.
Toegang is gratis.
Vir meer inligting, skakel Wolmarans by 082 966 8203 of Van Jaarsveld by 082 788 2880.



