’n ‘Reeksoortreder’ wat nie sy onderhouds-pligte teenoor sy kinders nakom nie, is tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis.
Tommie Goeda is op 2 Desember 2016 aan wanbetaling van R3 200 skuldig bevind. Hy is tot ses maande tronkstraf gevonnis.
Die hof het sy vonnis vir vyf jaar opgeskort.
Volgens staatsaanklaer Vicky Rossouw is Goeda op 31 Julie 2018 weer aan wanbetaling van onderhoud skuldig bevind.
“Die saak is uitgestel sodat Goeda die agterstallige onderhoudsgeld kon kry vir betaling, en sodoende tronkstraf vryspring,” sê Rossouw.
“Hy het egter gekies om sy werk te los en nie weer hof toe te kom nie.”
Goeda is in hegtenis geneem en op 14 November tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis: R300 of 90 dae gevangenisstraf vir wanverskying, ses maande gevangenisstraf op die nuwe klagte en ses maande gevangenisstraf van die opgeskorte vonnis.
“Indien hy die boete betaal, sal hy slegs 12 maande tronkstraf uitdien,” sê Rossouw.
Santino Fortuin is op 20 November tot ses maande gevangenisstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy nie onderhoud betaal nie.




