DIE Stormwaterdrein in Pells-rus, Jeffreysbaai het ’n direkte pypleiding van rioolvuil na die Pellsrus-strand geword.
Dit ná die Kouga-munisipaliteit ’n tydelike pypaansluiting uit ’n naby-geleë mangat na die drein op die hoek van Duineweg en Seeleeu-straat aangebring het.
Die pyp, wat verlede jaar in Desember aangebring is, dien as oorloop vir die riool wat voorheen byna weekliks by die mangat uitgeborrel het – ’n jarelange probleem.
Nou loop die rioolvuil direk in die stormwaterdrein in, waarvandaan dit op die strand uitspoel.
Saam met ontstoke inwoner Peter Dicken, probeer Freddie van Rooyen van die gemeenskapsorganisasie, Masikhathalelaneni, al etlike maande om die munisipaliteit se aandag op die probleem te vestig.
“Ondanks ’n besoek aan die munisipaliteit en munisipale ampte-nare se verskeie besoeke, is die situasie onveranderd,” sê Van Rooyen wat in Desember van die probleem bewus geword het.
“Hier loop onverwerkte riool by die see in. Dit is pikswart slik wat op die strand en in die see gaan lê. En die stank is ondraaglik. As die oostewind waai, kan geen inwoner dit waag om ’n deur of venster oop te los nie.
“Die gesondheidsrisiko wat hiermee gepaard gaan, is iets vreesliks. Daar is hoeveel mense wat in die see hengel en die vis eet of verkoop.
“Met die hoeveelheid gemors wat in die see loop, kan dit nie eens ge-sond wees vir iemand om kaalvoet in die water te staan nie. Vergeet van swem en branderplankry.”
Volgens Van Rooyen word die duine en plantegroei erg beskadig.
“Behalwe vir die riool wat slote deur die duine spoel, het die muni-sipaliteit verlede jaar ’n duin weggestoot om ’n keerwal te gooi,” sê hy.
Kouga-munisipaliteit Infrastruktuur en Ingenieurswese Portefeulje Raadslid Freddy Campher, sê: “Die tydelike aansluiting was aangebring weens die gereelde blokkasies wat verlede jaar daar plaasgevind het. Dié blokkasies het daartoe gelei dat riool in inwoners se erwe oorloop.
“In baie gevalle was die blokka-sies deur vreemde voorwerpe veroorsaak. Ons vermoed dat sabotasie betrokke was.”
Campher vervolg: “Die stelsel word van Maandag tot Vrydag twee keer per dag nagegaan sodat moontlike blokkasies vroegtydig aange-spreek kan word, voordat die riool op die strand uitspoel.
“Die onlangse blokkasie het egter op Menseregtedag plaasgevind en is eers die Vrydag aan die rioolspan gerapporteer.
“Ons reël tans met die betrokke departement dat die gereelde nagaan van die rioolstelsel in Duine-weg opgeskerp word.”



