TWEE-en-tagtig jaar, twaalf gemeentes in vyf provinsies, en vyftien lande later – en Danie Nel en sy vrou, Helene, is gereed vir nog groot dinge in die toekoms.
Dit klink half onwerklik, maar dié twee kerklike bedienaars wat op 25 April hul 62ste huweliksherdenking vier, het hierdie dinge (en veel meer) gedoen, en is steeds voltyds aan die gang. Hy sê tong in die kies dat hulle self nie aldag weet of hulle leraars of “travelaars” is nie.
Nel het as jongman ’n vakleerlingskap deurloop, maar die roeping om mense in geestelike verband te be- dien, was te sterk. Nadat hy hom vir die bediening bekwaam het, is hulle na hul eerste gemeente beroep.
Hulle het dit nie in daardie stadium besef nie, maar hulle sou uiteindelik in ’n aantal provinsies bedien: die destydse Natal, Vrystaat, Gauteng, Wes-Kaap en Oos-Kaap.
Hulle hoeveelheid beroepe na gemeentes, waarvan hy eindelik twaalf aanvaar het, sê genoeg van hoe lank hulle as pastoriepaar in aanvraag was. Danie was in al die jare nie net op sy eie pastorale bediening gefokus nie, maar betrokkenheid by die nood van die breë publiek en opleiding van leiers was sterk in sy visier.
As gevolg van sy groter visie het hulle dus baie oorsese lande besoek en het hy in Amerika, Zambië, Malawi en die Oekraïene as spreker opgetree. Hulle is verder gevorm deur verskeie kulture deur besoeke aan Engeland, Skotland, Frankryk, Italië, Portugal, Thailand, Duitsland, Ne-derland, Spanje, Israel en Namibië.
Oral het hulle nood gesien, en daarom stuur hy tot vandag nog 800 dagstukkies via e-pos uit. Dit bereik mense in Kambodja, Australië, Amerika, Nederland en Portugal. Hulle is steeds betrokke in hul tuisgemeente in Jeffreysbaai, waar hulle verantwoordelik is vir die bediening van meer as 200 senior burgers.
Hy bedryf al vir 9 jaar ’n internet-Bybelskool wat leiers wêreldwyd oplei en skryf boeke om hulle en andere toe te rus. Sy Bybelskool is met Christ for the Nations Dallas, Texas geassosieer. By hierdie aktiwiteite maak hulle ruim plek vir hul vier seuns en hul gesinne, wat nege kleinkinders insluit. Van die kinders is oor die land en oorsee versprei.
Danie se onstuitbare ywer lei hom elke Saterdag na Fountains Mall waar hy met die publiek omgaan en sodoende sy “gemeente” besoek.
Vir hulle gaan die lewe eerstens om voortdurende uitreiking na ander vir wie hulle die wêreld ‘n aangenamer plek kan maak, en hoop kan skep – vir die huidige tyd waarin hoë eise aan mense gestel word, asook vir die toekoms.



