n Vyfde persoon, ’n 36-jarige vrou, is in Jeffreysbaai in verband met die uitreiking van vervalste padwaardigheidsertifikate vir voertuie in hegtenis geneem.

Die vrou, wat ’n kassier by ’n toetssentrum in Jeffreysbaai was, het volgens die Valke vervalste aansoeke vir padwaardigheidsertifikate op die eNatis-stelsel gelaai.

Volgens kapt. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder in die Wes-Kaap, was die aansoeke vir die sertifikate vir voertuie van mense in die Wes-Kaap en was die voertuie nooit eens by die toetssentrum nie. “Die voertuie het nooit die padwaardigheidstoetse ondergaan nie.”

Hy sê die modus operandi was dat ’n tussenganger, ’n persoon in Vredenburg aan die Kaapse Weskus, die besonderhede van die voertuie by die eienaars sou kry. Die persoon sou ook die “betaling” invorder. Die geld, afhangende van die tipe voertuig, sou dan aan die betrokke persoon in die Oos-Kaap oorbetaal word.

Die besonderhede, insluitende dokumente, sou ook na die Oos-Kaap gebring of gestuur word waar die nuwe padwaardigheidsertifikate dan uitgereik sou word.

Nkwalase sê die vrou se inhegtenisneming volg ná die aankeer van vier ander mense op 12 en 13 Maart vanjaar in Jeffreysbaai, Port Elizabeth en Kaapstad.

Die vrou het verlede Donderdag in die landdroshof in Vredenburg saam met die ander vier mense verskyn.

Nkwalase het ook verwys na die inhegtenisneming van drie Somaliese burgers wat op 17 April in Grabouw in hegtenis geneem is.

Hy sê Abdi Mohamed Omar (41), Isse Abdulahi Mohamed (32) en Abdullahi Yuseg Ali (31) het die volgende dag in die landdroshof in Bellville op aanklagte van bedrog verskyn. Hulle word daarvan aangekla dat hulle van die mense is wat vervalste padwaardigheidsertifikate vir hul voertuie bekom het.

Hulle is uit op borgtog van R1 500 elk en moet weer op 4 Junie in die hof verskyn.

Nkwalase sê nog inhegtenisnemings kan volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article