Wilna Lubbe, ’n stapper van die Baviaans Camino, het kans gesien om ’n entjie in Bloedneus te ry. Toe sy die sleutel draai, was die honde op die bakkie. Frikkie sit op die stoel langs haar. Foto’s:MARISKA SPOORMAKER


MET sy skepping is hy Bosvark gedoop, omdat hy brullend sy weg deur die steiltes en riviere diep in die Kougaberge gevind het.

Toe, op ’n dag, is Bosvark benodig om twee vroue by Entkraal se Modderhuisie, nóg dieper in die Kougaberge, te gaan oplaai. Hulle was stappers op die Baviaans Camino wat weens erge blase op die voete nie verder kon nie.

Hulle het Bosvark gesien en uitgebars van die lag, vertel Leverne Barnard, “skepper” van hierdie unieke vierwielvastrapper. “Hulle het seker ’n gewone voertuig verwag. Maar hulle het opgeklim en toe ons al ’n hele ent verder gery het, sê hulle: Nee, hierdie kar se naam moet Bloedneus wees.”

Want, sou Leverne skielik rem trap, kan die passasier hom- of haarself bloedneus voor in die pad val, want Bloedneus het nie ’n windskerm nie. Trouens, hierdie saamgestelde wonderwerk op wiele – oorspronklik ‘n 1987 Isuzu-model – het géén venster van enige soort nie. Ook nie deure nie. Laat staan nog veilig-heidsgordels of enjinkap.

Die bak van die bakkie het lankal weggeroes, toe vervang Leverne dit met ‘n houtbak. Só stewig, vier mense én drie van sy honde kan maklik agterop sit. Frikkie, die vierde hond wat ook altyd saamgaan, is die een wat voor sit.

Meestal hardloop Frikkie vooruit in die pad; dis net so nou en dan dat hy tussen die twee verweerde sitplekke inskuif en sy snoet vorentoe uitsteek, ver verby die plek waar die windskerm moes wees.

’n Kar sonder enige ruit het nie plek vir n lisensie nie . . . is Frikkie die spietkop-bespieder?

Leverne vryf oor Frikkie se kop. “Nee wat, as hier ’n beampte kom, draai ons af in die bos.”

Maar ernstig, Bloedneus is net gebou vir plesier en plaaswerk. “Gebou” is eintlik verkeerd, “saamgestel” sal beter werk, want hierdie vastrapper is uit die flenterparte van baie ander motors gebou.

“As ek hierdie bakkie aanskakel, is die honde op. As ek te lank vat om aan die ry te raak, dan byt Frikkie die bande.”

Maar is hy nie bang dat Bloedneus eendag so in die ry sommer heeltemal sal deurroes nie?

Leverne vat aan Bloedneus se ingeduikte dak. “Nee wat, hierdie is regtig ’n betroubare kar – hy het my nog altyd huis toe gevat. Solank as wat ek lewe, gaan Bloedneus nog loop.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article