’n Netjies-geklede groep mans teiken na bewe-ring niksvermoedende inwoners wat geld by kitsbanke in die Kouga-gebied trek, met ’n nuwe, slinkse truuk.
Dié mans, wat lyk of hulle pas self geld getrek het, beweer dat die spesifieke kitsbank nou anders as voorheen werk en dat hulle sal “help”. En as ’n mens weer sien, is jy sonder jou bankkaart.
In die nuuste voorval is die bankkaart van Jeffreysbaai-inwoner Karin Fouché by die Absa-kitsbank in Da Gamaweg gesteel.
Fouché vertel: “Ek wou verlede Woensdag omstreeks 11:30 geld by die kitsbank by die Jeffreysbaai SuperSparsentrum trek, toe ’n onbekende man wat voor my gestaan het, sy hulp aanbied – ongevraagd.
“Voor ek kon keer, het hy my bankkaart uit my hand geneem, gemaak asof hy dit in die gleuf van die kitsbank druik en gevra dat ek my PIN-nommer insleutel.
“Sonder om te dink, het ek dit gedoen.”
Volgens Fouché het die man hom daarna baie vinnig uit die voete gemaak.
“Toe ek my kaart wou uithaal, was dit net weg en ek het aangeneem dat die kitsbank my kaart gesluk het.”
Sy is reguit na Absa-bank om die voorval aan te meld. Net om uit te vind haar kaart is gesteel en dat daar minute vantevore R5 000 uit haar rekening getrek is.
Sy het dadelik haar bankkaart gestop.
Fouché is terug na die sentrum waar sy met die hulp van Nina’s Real Food se beeldmateriaal die man, asook sy vier makkers, kon identifiseer.
Volgens Fouche ry hulle ’n swart Volkswa-gen Polo met GP-nommerplate.
Die inligting is aan Smhart-sekuriteit deurgegee. Hulle het die verdagtes binne twee ure na die voorval by Fountains Mall vasgetrek en na die Jeffreysbaai-polisiekantoor geneem.
’n Saak van diefstal is geopen.
“Baie dankie aan Smhart en Nina’s vir hul ongelooflike bystand tydens die traumatiese voorval,” sê Fouche.
Volgens polisiewoordvoerder sers. Majola Nkohli, het die polisie na twee video-opnames gekyk, maar kon geen beeldmateriaal vind wat die persone met die voorval verbind nie.
“Verder is hulle voertuig deursoek, en niks is in hul besit gevind wat tot hul inhegtenisneming kon lei nie. Onder sulke omstandighede sou dit onwettig wees om hulle te arresteer.
“’n Speurder volg die saak op en is in die pro-ses om ’n video-opname van Absa-bank te kry.”


