JEFFREYSBAAI is bekend met wêreldbestes – van die beste branderplankry-golwe en nou ook van die erkende top koffieroosters.
Ansophie van der Merwe van Routed Roasters in First Light Coffee het die derde plek voor die ander koffiekenners se neuse weg-geraap in The Coffee Magazine se A Shot in the Dark roosterkompetisie.
Percy Chikwira van Infood Coffee Roastery was ook onder die Top 10-kwalifiseerders wat van 26 tot 28 Junie aan die finaal van Suid-Afrika se enigste roosterkompetisie deelgeneem het. Vanjaar is die kompetisie aan mededingers van regoor die land én die wêreld oopge-stel.
Ansophie is haar beskeie self. “Dit was ’n uitstekende geleentheid om te leer, en bete-ken soveel vir Routers en First Light. Dit is natuurlik goed vir die onderneming ook.”
Sy sê: “Dit was ‘n eer om die die Top 10 te wees, maar om derde te kom, was awesome!”
Routers Roasters is binne First Light Coffee naby die J-Bay Surf Village en die hoofstrand geleë. Dis ’n tuisvoel-plek, lig en ruim, kompleet met rusbanke, houtvloere en, uiteraard, puik koffie. En die beste affogato met grondboontjiebotter-roomys ooit.
Dit is ook ’n plek wat wenners oplewer. Hierdie is nie Ansophie se eerste topplek nie. Sy het voorheen in Port Elizabeth ’n wenplek vir kundige koffieproe ingepalm.
Sy is saam met Heinrich en Maxine Thiart en Fred Euvrard die eienaars.
Heinrich glimlag toe ek hom sy mening vra: “Dis goeie blootstelling en ’n uitstekende ge-leentheid om te leer en so te vorder.”
Shot in the Dark
A Shot in the Dark, aangebied deur The Coffee Magazine met GENIO Intelligent Roasters, het in twee dele plaasgevind.
In die aanvanklike roosterronde om die Top 10 te bereik, het deelnemers groen, spesiali-teit koffiebone (ongerooster) ontvang. Hulle vermoë is op die proef gestel om die beste aroma en geur van die koffie vry te stel. Die ge-roosterde bone is teruggestuur om blindgetoets te word.
Die Top 10 is aangekondig, en siedaar: twéé van Jeffreysbaai se bestes het deurgedring – Ansophie van Routed Roasters by First Light en Percy van Infood Coffee Roastery.
Die finale ronde is tydens ’n kreatiewe koffieweek in Durban gehou. Deelnemers moes hul vars geroosterde koffiebone aan die beoordelaars voorlê.
Koffiekundige Trish Rothgeb van Wrecking Ball Coffee Roasters in San Francisco, VSA was een van die beoordelaars.
André Vermeulen van Bottomless Blessings Coffee Roastery (GENIO-eienaar) het met die louere weggestap, maar Jeffreysbaai is breëbors oor hule eie koffiesterre.





