ANNELI! Anneli Boekwurm! Kom lees vir ons ’n slaaptydstorie.
Die rekenaarskerm helder op.
Drie kinders – elkeen in hul vro-like slaapklere, tande geborsel – knip-knip stadig hul oë, terwyl hulle geduldig wag dat nóg maatjies, oud en jonk, by hulle aansluit. Aanlyn, natuurlik.
“Hello, Erica en Arnica . . . hello,, Pauline . . . Kayla, Mila, Bella en Christa . . . hello, Luke, Daniel en Maro . . .”
Dan is dit storietyd: The Fish that could Wish. Die eerste van talle slaaptydstories.
Professionele fotograaf, boervrou, ma en storieliefhebber, Anneli Young van Hankey, lees sedert Vrydag, Maart 27 elke aand ’n slaaptydstorie vir haar kinders Shawn (11), Hayley (9) en Emily (5).
Maar met ’n verskil – storieliefhebbers van regoor die wêreld kan inskakel en saam luister.
En dit het alles by ’n uitdaging begin.
Anneli vertel: “Ons het op ’n ander mamma en haar seuntjie se storietyd ingeskakel, en sy het ’n uitdaging aan ander mammas gegee om ook stories te vertel. Veral met die hoop dat dit huisgesinne sal bereik wat nie noodwendig dieslefde hulpbronne as ons het nie – om elke aand ’n storie te kan lees.”
Reeds die eerste aand het nagenoeg 70 Facebook-kykers van regoor Suid-Afrika, asook Skotland, Amerika en Australië na haar storie geluister. Dié video, wat aanlyn beskikbaar is, is tot op hede deur amper 800 mense gekyk.
“Ons het elke land se vlag geverf en ingekleur as ’n aktiwiteit om ons besig te hou,” sê Anneli.
Volgens haar kyk mense na die video wanneer dit hulle slapenstyd is – nie almal skakel noodwendig om 20:00 in nie.
“Die Facebook-kykers in Amerika kyk veral eers veel later na die video,” sê sy. “Die video’s word heeldag gekyk, want ons kry gereeld boodskappe van mense wat inskakel wanneer hulle kan.
Stories sluit in bekende kinderstories, soos Aspoestertjie.
“In die stadium lees ons Engelse stories om meer gesinne te bereik. Ons sal egter hier en daar ’n Afrikaanse storie vir afwisseling lees,” sê Anneli.
Hoe werk dit?
Die stories word elke aand om 20:00 op Anneli se Facebook-blad (@anneli.mostertyoung) gelees.
Luisteraars lewer kommentaar en die gesin reageer daarop. “By-voorbeeld, mammas pos hulle kinders se name en ons sê vir hulle hello,” vertel Anneli. “Ons kry ook foto’s waar kinders besig is om na ons stories te luister.
“Dit is lekker om te sien dat almal dit geniet. Daar is selfs ’n paar mense sonder kinders wat inskakel.
“My kinders geniet dit vreeslik en kan nie wag om te sien wie almal kyk nie.
Sluit aan by Anneli (@anneli.mostertyoung) en haar kinders vir ’n slaaptydstorie elke aand om 20:00.



