IS daar sop en ’n aftrekselkblokkie in elke pakkie?
Ja?
Sy loer in een pakkie, skuif nog een reg en bind ’n ander toe – tevrede vir nou.
Sonya Doris, eienaar van Bay Pasta Co. in Jeffreysbaai, groet vriendelik waar sy in die middel van haar eens-volgepakte restaurant tussen honderde kospakkies staan.
Agter haar op die vloer lê stapels botterskorsies en pampoene wat nog verpak moet word vir die duisende mense wat swaar trek op die dorp en omliggende gebiede.
Die inhoud is basies: mieliemeel, kookolie, kitssoppoeier, rys, stampmielies, bone, melk en watter vars groente en vrugte ook al geskenk word. Suiker, toiletpapier en seep is luukshede.
Maar elke bietjie help diegene in nood. En daar is baie – sedert die staat van inperking op 27 Maart begin het, sit armoede en hongersnood op baie se stoep.
Nie nét in informele nedersettings nie: honger het nie kleur, ouderdom of genade nie.
’n Hartseer trek flits oor Sonya se gesig: “Ons word oorstroom met op-roepe. Die vraag bly dieselfde: Waar kan ons kos kry? Ons is honger.
“Ons help waar ons kan.”
Volgens haar is maatskaplike toelae nie voldoende om in die voedselbehoeftes van huishoudings te voorsien nie en werkloosheid neem by die dag toe – in beide die formele en informele ekonomie.
“Duisende inwoners wat van hand-tot-mond geleef het, staar daagliks honger in die gesig,” sê sy.
Vir oorlewing
Hoe het sy – asook Evelyn Markides van Happy Hands en Libby Seymour van die JBay Recycling Project – sedert die begin van Maart vir broodnodige kospakkies begin “bedel”?
Maklik: drie maaltye per dag vir haweloses het hulle genoop.
“Ons is deur Kouga-munisipaliteit genader om drie warm maaltye per dag aan die talle haweloses in die nuwe skuiling by die Pellsrus-karavaanpark in Jeffeysbaai te voorsien.
“Die skenkings het van oral ingestroom en daar is besluit om Bay Pasta Co. die sentrale afleweringspunt vir alle voedseldonasies te maak. Nie net vir die haweloses nie, maar vir enigiemand in nood.
“Die lewe was reeds voor die Covid-19 pandemie moeilik vir baie inwoners. Nou is dit `n gespartel om genoeg kos te kry – dit gaan om oorlewing.
Sonya: “Die afgelope paar weke het professionele mense, soos haarkappers en sakelui, by ons begin aanklop. Dié kosnood tref nou ook die middel-klas en sogenaamde gegoede huishoudings. In Wavecrest en C-Plek maak gesinne wat voorheen vir hulself kon sorg, nou op kospakkies staat.”
Volgens haar het die aantal families wat om hulp aangeklop het, sedert Maart tot nou van 300 tot 6 000 toege-neem – nagenoeg 20 000 mense. Meer as 30 000 kospakkies is al uitgedeel. Die totale waarde: meer as R2 miljoen.
“Daar word streng volgens ’n oorkoepelende lys van al die verskillende nie-winsgewende organisasies en kerke in die gebied gewerk – niemand mag oorgeslaan word nie,” sê sy. “En dié lys groei daagliks.”
Leë ‘koskaste’
Daar was al dae dat daar nie één pakkie meel of suiker was om uit te deel nie – dae wat hulle na aan trane was, maar dan daag iemand op met sakke vol sop of bokse vol kos, en dié drie omgee-vroue is so oorstelp, soos kinders op Kersdag.
Markides frons liggies: “Ons bid en God voorsien deur die ruimhartige skenkings van inwoners, boere en sakelui.
“Nelly Burrows van die Can-Can Drive en Fish and Bread Ministries dra ook by tot die sukses van die projek.”
Gaan hulle na die grendeltyd ophou met kospakkies uitdeel?
“Beslis nie,” sê Sonya. “Daar sal altyd ’n behoefte vir dié pakkies wees – en ons wil in die behoefte help voorsien. Nou én in die toekoms.”
Help so
Inwoners kan die projek met geldelike bydraes of kos ondersteun.
Kos soos sopmengsel, mieliemeel, pasta, rys, aftrekselblokkies, groente en vrugte kan by Bay Pasta Co. in Jeffreystraat afgelaai word, asook by sekere plaaslike supermarkte.
Geldelike bydraes kan gemaak word aan EB Markides by Capitec, rekeningnommer: 1254512002, verwy-sing: Covid en jou naam.
“Gee net wat jy kan, want elke bietjie help,” sê Sonya.
Vir meer inligting, skakel 083 382 5043.





