Hannon Bothma bied op Saterdag, 11 Julie, saam met Express en Die Burger ’n virtuele vertoning aan waar drie gelukkige vroue gekies sal word om ’n persoonlike aanlyn-konsultasie met SA se gewilde voorkoms-guru te kry.
Die aanlyn-vertoning sal via die Locals Live-platform uitgesaai word. Gaste sal ook die geleentheid kry om vir Hannon vrae te vra wat hy tydens die regstreekse vertoning sal beant-woord.
Hannon Bothma is bekend vir die wondere wat hy met sy grimeer-kwassies, skêr en produkte kan verrig, asook vir sy goeie oog vir wat werk en wat nié werk nie.
“Om vroue mooi te maak – en veral mooi te laat vóél – is een van Hannon se grootste talente,” het Bettie Gilio-mee-Rossouw, EP Media-uitgewer, gesê.
“Ek glo dat daar menige vroue is wat ’n hele jaar se skoen-inkopies sal prysgee om ’n persoonlike konsultasie met hom te kry. En dit is presies wat drie gelukkige dames sal kry.”
“Tydens hierdie vertoning sal gaste ontslae kan raak van die grendeltyd-kwale en inspirasie kry vir hul voorkoms vir wanneer die grendeltyd verby is,” het Giliomee-Rossouw bygevoeg.
Kaartjies vir die vertoning kos R60 elk.
Diegene wat kaartjies koop sal die geleentheid kry om ’n foto van hulself te stuur na ’n epos-adres wat met die kaartjie-inligting verskaf sal word.
Hannon sal drie dames uit die foto-inskrywings kies en hulle tydens die vertoning raad en wenke gee om hul voorkoms te verfris.
Boonop sal almal wat kaartjies koop, 25%-afslag kry op produkte wat hulle op Hannon se aanlyn-winkel by www.hannon.co.za koop.
Minstens 15% van die opbrengs van die kaartjie-verkope sal aan die Teaterbystandsfonds (TBF) geskenk word.
Die virtuele vertoning kan aanlyn gekyk word met ’n slim-televisie, rekenaar of selfoon.
Wanneer jy jou kaartjie betaal het, sal jy ’n aanlyn-skakel ontvang. Die vertoning sal ook opgeneem word om later gekyk te kan word deur mense wat kaartjies gekoop het.
Die vertoning begin om 15:00 en sal sowat ’n uur lank duur.
Om kaartjies te koop, gaan na www.quicket.co.za en tik Hannon in.
Vir meer inligting oor hoe om virtuele vertonings op die Locals Live-platform aan te bied, stuur ’n epos na locals.live@media24.com.




