DIE rooihakskeen-volstruismannetjie dans breëvlerk om die vaal-grys wyfies – sy lang nek laag gebuig.
Dié ‘skoner’ geslag is min beïndruk met sy stowwerige liefdesdans en skrop onverpoosd vir saad en boepens insekte.
’n Swartwitpensbul hou wag by die houthek, sy groot horings sierlik na agter gedraai. Net regs van hom vreet die trop lustig aan die doringbome. Agtertoe soek ander kos in die veld.
Lieflik, hierdie veldtonele langs die selfbestuur 4×4-roete van die Pabala Privaat Natuurreservaat – geleë op die R331 tussen Loerie en Hankey.
Dit was ’n goeie besluit om ons Sondag hier op viertrekwyse te kom spandeer. Piekniekmandjie en Volkswa-gen Amarok – ’n voortreflike vastrapper. En gemaklik. Jou wegbreek begin elke keer sodra die wiele by die huis wegrol.
Veldryroete
In die verte hoor ons bobbejane roep. Ons ry in stilte verder. Want dit voel ons is inbrekers in bosvark, kameelperd, bergkwagga, blesbok en springbok se huis.
Ons ry verby ’n paar rooibokke wat ons van die bultjie nuuskierig staan en dophou.
“Links onder ’n wildebees,” fluister-skreeu Colin Basson opgewonde.
Sowaar. ’n Goue wildebees. Sy goue maanhare blink in die koue winterson. Ek neem ’n foto. En nog een.
Die pad kronkel hoër op. Los klippe kraak onder die Amarok se breë bande . . . ’n klein stofwolk volg ons.
Die aalwyne staan oranje in blom. ’n Bonus is die veld wat in pers en wit na die onlangse reën blom. Die proteas is nie sku met sy pienk blommekrone nie.
By die vurk in die pad hou ons links – soos aangeraai voor ons vertrek die oggend by die hek. Die ander pad loop loodreg boontoe.
En daar, tussen niks en nêrens in die bergagtige natuurskoon waar die vurk in die pad byme- kaarkom, is ’n uitsigpunt wat kyk oor die wydgestrekte landskap.
Ons kyk en ons kyk – elkeen met sy eie gedagtes. Woorde sal te veel raas.
Ná lank se kyk en met ’n diep stilte in ons gemoed, ry ons verder met die tweespoorpad.
Heuningbos, fynbos, spekboom, heide en renosterbos is van die plantegroei wat ons swyend groet.
Op ’n oop stuk grond smul rooibokke en blesbokke (wit en bruin) aan nartjies. Híér word net gevoer wanneer nodig. En net op een plek.
Dan is dit tyd vir omdraai.
“Kameelperd!” skreeu ek opgewonde.
Verbeel ek my? Nee, daar sien ek weer die kenmerkende lang nek en twee kort horingagtige groeisels op sy kop. Ons soek ’n afdraaipad om die gekolde diere van nader te sien – daar is nie twee kameelperde met presies dieselfde kolle nie.
Half weggesteek tussen lang gras is ’n nou paadjie – ons volg dit. Na ’n paar minute stop ons ’n meter of twee van die drie kameelperde af.
Hul donkerpers tonge gryp-gryp na die groen lekkerny, terwyl lastige vlieë met hul klossie-stert verjaag word.
Terug word die Amarok se vastrapvermoë teen die steilte en op los klippe en sand getoets.
Terug op die ‘gewone’ roete, volg ons die pad na die dansende volstruis.
Net voor ons by die hek uitry, sien ons vir oulaas ’n trop goue- en swartwildebeeste.
Oogbederf
Wanneer jy die Pabala Privaat Natuurreservaat besoek, kyk jy nie net grootoog vir diere en voëls nie . . . hier kyk jy wyd na ’n landskap waarin die oerverhale van die wêreld opgesluit lê. Uitge-strekte vlaktes, diep klowe, berg-reekse en grasveld.
Jy neem foto’s met jou oë en bêre dit vir later se onthou.
Want geen foto kan dié landskap weergee nie.
En geen woorde kan dit met volle reg beskryf nie.
- Pabala Privaat Natuurreservaat, geleë op die R331 tussen Loerie en Hankey, spog met luiperd, rooikat, ratel, kameelperd, springbok, wildebees, swartwitpens, volstruis, bergkwagga, njala, koedoe, waterbok, sebra, rooibok (rooi en swart), blesbok (wit en bruin), bosbok, duiker, grysbok, ribbok en steenbok.
- Die welige inheemse plantegroei sluit in heuningbos, fynbos, protea, spekboom, heide, renosterbos en roosmaryn.
- Bestel ’n wegneemete vooraf by Local is Lekker (by Pabala) om in die veld te geniet – kontak hulle by 060 907 9416.
- Neem saam:Kamera en hope tyd – die bos vra jou volle aandag.
- Tyd:09:00, 13:00 en 15:00.
- Koste:R350 per voertuig vir die self-bestuur 4×4-roete.
- Vir meer inligting, skakel Pabala Privaat Natuurreservaat-eienaar Wernich Cronjé by 082 508 7762 of epos admin@pabalaprivatenaturereserve.co.za. Besoek www.pabalaprivatenaturereserve.co.za.




