’n Hengelaar op ’n seekajak het die naweek ’n stryd verloor teen ’n haai wat nie net met sy vangs weggeswem het nie, maar hom ook sonder ’n roeispaan in die see gestrand gelaat het.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die 61-jarige man van George Saterdagoggend bykans 3 km van die kus af in die see by Skuitbaai naby Eersterivierstrand in die Oos-Kaap gehelp.
Luidens die NSRI se verklaring het die man Saterdagoggend vanaf sy kajak met ’n visstok gehengel. Hy het blykbaar ’n vis ingekatrol toe ’n haai die vangs gryp en daarmee wegswem.
“Die haai het met die vis weggeswem en hy (die hengelaar) het sy roeispaan en van sy hengeltoerusting verloor,” lui die NSRI se ver-klaring.
Omdat die hengelaar nie kon terugroei nie, het hy sy anker uitgegooi en hulp ingeroep.
Lede van die NSRI op Oesterbaai het die hengelaar en sy kajak met hul boot veilig na die kus teruggebring.



