BO: Alena Hübscher, ’n Switserse burger, het die Addo-Olifantpark besoek terwyl sy as ’n vrywilliger in Jeffreysbaai gewerk het. Foto:VERSKAF


’n MAN wat in verband met die dood van ’n Switserse vrou in Jeffreysbaai aangekla is, het Woensdagoggend as ’n vry man weggestap.

Vriende van Alena Hübscher (21), wat ten tyde van haar dood as vrywilliger vir die humanitêre organisasie Timion in Jeffreysbaai gewerk het, het Woensdag die landdroshof in Humansdorp teleurgesteld verlaat en gesê hulle is onseker of geregtigheid geskied het.

Hübscher het aan haar beserings beswyk na-dat sy die aand van 12 Februarie 2016 in ’n motorbotsing betrokke was in Da Gamaweg, oorkant die ingang van ’n plaaslike Spar-winkel.

Hübscher het skaars ’n maand vantevore as vrywilliger by die organisasie, wat terapie aan serebraal gestremde kinders bied, aangesluit.

In beeldmateriaal van die botsing blyk dit die motor waarin Hübscher was, by die winkelkompleks uitdraai toe ’n aankomende motor in Da Gamaweg afgejaag kom en teen Hübscher-hulle se motor vasry.

Hübscher, wat agter die bestuurdersitplek gesit het, is kort daarna in ’n plaaslike hospitaal dood, terwyl nog een van die insittendes vir ’n week in die waakeenheid behandel was.

Roshano Rayners, eienaar van die motor wat na bewering gejaag het, is later as ’n verdagte vir die strafbare manslag-saak in hegtenis ge-neem.

Landdros Una Rhodes het egter Woensdag in haar uitspraak bevind die staat het nie bo rede-like twyfel bewys dat Rayners wel die bestuurder van die motor op die betrokke aand was nie en hom onskuldig bevind.

Die landdros het gesê die onus rus op die staat om te bewys wie die motor bestuur het toe die ongeluk gebeur het en dit nie genoeg is om aan te neem dat Rayners die bestuurder was, net omdat hy die eienaar van die motor is nie. Boonop kon nie een van die getuies gedurende die verhoor vir Rayners op die toneel plaas nie.

Rayners, wat van Port Elizabeth afkomstig is, het nie die betrokke aand aan die polisie gesê dat hy nie agter die stuurwiel was nie, maar het in sy eie weergawe in die hof erken hy was op die toneel. Hy het verder gesê sy vriend, ene Gershwin Fortuin, ook bekend as Killer, het sy motor daardie aand bestuur aangesien hy te moeg was.

Fortuin is egter kort ná die voorval blykbaar in ’n bendeverwante misdaad dood. Hoewel daar nog insittendes in Rayners se motor was, het hulle almal blykbaar van die ongelukstoneel weggehardloop. Hulle kon ook nie opgespoor word nie, aangesien Rayners nie hul volle name ken nie.

Nadat Rayners onskuldig bevind is, het hy sonder om oogkontak met Hübscher se ondersteuners te maak , saam met sy prokureur, Hennie Bence, die hof verlaat.

Buite die hof het Hübscher se vriende in ’n kring gestaan en saam gebid.

Daniel Meyer, stigter van Timion, het Woensdag die hofuitspraak bygewoon en gesê die uitkoms is teleurstellend.

“Ons wou net hê die waarheid moet seëvier, maar ons is onseker of dit vandag gebeur het. Ek het baie vrae. Dit is moeilik.”

Meyer sou later die dag nog die uitkoms met Hübscher se ouers, Roland en Manuela, deel.

Hoewel Meyer nog die hofuitspraak probeer verwerk, is daar ’n enkele ligpunt waaroor hy en Hübscher se ouers opgewonde is.

Teen volgende week behoort die Alena’s Love-dagsorgsentrum vir gestremde kinders in KwaNobuhle, aan die buitewyke van Uitenhage, geopen te word.

“Alena se nalatenskap sal hierdeur voortleef. Sy het kinders met gestremdhede met passie gehelp.”

Aanvanklik het die dagsentrum uit ’n enkele laekostehuis bestaan wat met fondse toegerus is wat tydens haar gedenkdiens ingesamel is.

Volgens Meyer het mense in plaas van blomme, geld gegee tydens haar gedenkdiens.

Teen volgende week sal hulle ’n uitgebreide sentrum ter nagedagtes van Hübscher open.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article